
“Die plaaswerker van vandag moet vra wat die bydrae is wat hy of sy op die plaas kan maak om ‘n verskil te maak. Dit gaan oor die mense om ons en die langtermyn sukses van die besigheid vir wie ons werk. Ons moet leer om nie op te hou leer nie en saam met tegnologie groei.”
Só sê mnr. Kolie Paulse, ‘n voormalige Plaaswerker van die Jaar in die Wes-Kaap, wat plaaswerkers by die Namaqua-Weskus Ekspo op Vredendal toegespreek. Sedert hy die titel in 2012 ingepalm het, het Paulse self by Citrusdal begin boer, waar hy uitstekende resultate behaal.
Paulse was ten tyde van sy sukses as Plaaswerker van die Jaar in diens van die Du Toit Groep by Ceres. Hy sê plaaswerkers is wenners en moet as wenners ook hul nageslagte leer om wenners te wees en soos wenners te werk.
“Ek kan met ervaring met julle hieroor praat,” vertel Paulse. “Ek weet wat dit is om ‘n leivoor te grawe, om dreinering te doen en ek weet wat dit is om ‘n trekker te bestuur en om te spuit.”
Paulse sê hy het ‘n besluit geneem om bo uit te kom. “Ek het een man nodig om my soontoe te vat en ek het besluit om my geloof in die Here geplaas.” Hy moes afsien van ‘n lewe waarin drank of dwelms en ander versoekings ‘n rol gespeel het.
Hy het ‘n besluit gemaak om ondanks die verandering wat meganisasie en die verhoging in minimum lone inhou, die beste op sy terrein te wees. “As jy ‘n skaapwagter is, word die beste een. As jou taak is om ‘n trekker te bestuur, maak seker jy word die beste wat daar is, maar leer om by nuwe geleenthede, soos die rekenaars in die trekkers en werktuie, aan te pas.
“My boodskap is dat jy die beste word op jou vakgebied. Dit is wat jou onmisbaar sal maak,” sê Paulse.