’n Rower het homself geskiet en drie ander verdagtes is aangekeer ná hulle ’n plaaswinkel in Noordwes geroof het, sê kapt. Tselane Nkala van die SA Polisiediens.
Ses mans het ’n 71-jarige vrou glo Dinsdag (18 Januarie 2012) in ’n plaaswinkel op die plaas Wilgevlei naby Delareyville aangehou.
Die mans het glo gesê hulle wil tabak koop toe hulle die winkel binnegegaan het. Hulle het die vrou met ’n wapen gedreig en geld en wapens geëis.
Die boer se wapens is na bewering in die kluis in die winkel gehou. ’n Plaaswerker het glo gesien wat gebeur en die vrou se seun, die boer, na die winkel geroep.
Geskiet
Die boer het die Polisie ontbied en die verdagtes het op die vlug geslaan. Vier van die verdagtes is aangekeer en een van hulle het homself in die kop geskiet voor die Polisie hom in hegtenis kon neem.
Die ander twee verdagtes het die bosse in gevlug en is steeds op vrye voet.
Nkala sê die verdagtes het glo drie vuurwapens en ’n onbekende bedrag geld gesteel. Een van die vuurwapens is teruggevind.
Die drie verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
18 Januarie 2012