
Mnr. Gugile Nkwinti het die beraad oor verblyfsekerheid gebruik om grondplafonne deur te druk, sê die landbou-eenheidsforum Asuf.
Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Asuf, sê dit was vanuit die staanspoor duidelik dat Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, wou gehad het die departement se beraad moet die groen lig gee vir die inwerkingstelling van grondplafonne.
Meer as 2 000 afgevaardigdes wat belang het by onder meer grondhervorming, regte vir plaaswerkers, kommunale grond en die landbou, het die beraad van Donderdag tot Saterdag in Boksburg bygewoon. Hulle is in kommissies verdeel wat met oplossings oor verskillende kwessies na vore moes kom.
Nkwinti het Saterdag die kommissie wat na verblyfsekerheid op kommersiële plase moes kyk, teruggejaag omdat hy nie tevrede was met hul werk nie. Hy wou gehad het hulle moes na ‘n voorstel van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) kyk, wat drie plafonne van 4 000 ha, 8 000 ha en 12 000 ha vir kleinskaalse, mediumgrootte en groot boere voorstel.
Hiervolgens sal boere die grond wat hulle meer as dié drempels besit, aan die staat moet verkoop.
Nkwinti het gesê plaaswerkers sal dan voorkeur geniet om daardie grond te kry.
Afasa se voorstel lui ook dat die begunstigdes van die grond vyf jaar lank staatsteun moet kry en as hulle hulself bewys het, dan die grond moet kan koop, of ‘n langtermyn-huurkontrak van minstens 30 jaar met die staat moet kan sluit.
Nkwinti het die Afasa-voorstel aan die beraad voorgehou vir goedkeuring en daar was nie teenkanting uit die gehoor nie. Grobler sê hoewel sommige Asuf-lede by die beraad aangedui het hulle mag dalk grondplafonne steun, is soiets ‘n baie ingewikkelde kwessie met baie moontlike nadelige gevolge.
“Afgevaardigdes se insette het duidelik gewys dat daar ‘n reeks veranderlikes is wat in ag geneem moet word as ’n mens oor die grootte van volhoubare plase wil bespiegel.”
Grobler sê ingeligte debat hieroor moet binne Asuf plaasvind, binne die raamwerk van nasionale voedselsekerheid, die stabiliteit van en belegging in die sektor en kommoditeit-spesifieke vereistes vir grond. “Grondplafonne in ’n absolute vorm soos ’n maksimum hoeveelheid hektare kan nadelig wees vir werkskepping.”
Grobler het gesê die landbou sou graag meer nuwe toetreders wou sien asook meer volhoubare aandeelskemas tot voordeel van plaaswerkers.
“Maar in die huidige onseker beleidsomgewing,met klein winsmarges vir die meeste kommoditeite, beperkte navorsing en steun, en baie beperkte toegang tot bekostigbare finansiering, is dit ’n groot uitdaging vir nuwe toetreders.”