Planne word beraam om meer studente volgende jaar toelating tot die fakulteit veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria (UP) te gee om meer veeartse vir die land op te lei.
Prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van die universiteit, het op ’n konferensie van die SA Voerkraalvereniging in Pretoria gesê ’n werkgroep gaan maniere ondersoek om die bestaande program vir die opleiding van veeartse uit te brei. Dit is weens die tekort aan veeartse, veral diegene wat in produksiediere spesialiseer.
Die werkgroep bestaan uit die UP, die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), die Noordwes-Universiteit en Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) en is op versoek van die Minister van Hoër Opvoeding en Opleiding ingestel.
Die UP het die enigste fakulteit in Suid-Afrika wat veeartse oplei. De la Rey het gesê die werkgroep is nou in ’n gesprek met die betrokke staatsdepartement gewikkel om meer studente in 2013 toelating te gee.
‘Suksesvolle landbousektor verg hoëvlak-vaardighede'
Sy het gesê universiteite speel ’n belangrike rol om ’n sterk, produktiewe landbou te bevorder en ontwikkel deur hoë vlakke van vaardighede, navorsing en innovering aan studente te bied. ’n Suksesvolle landbousektor verg eweneens hoëvlak-vaardighede in diere en gewasproduksie. ’n Gebrek aan opvoeding en die ontwikkeling van vaardighede is juis in ’n onlangse verslag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye erken. Daarvolgens word Suid-Afrikaners gestrem om vordering in boerdery te maak.
Daar is ’n groeiende besorgdheid by die publiek oor voedselveiligheid, gesondheid, dierewelsyn en die omgewing se volhoubaarheid. Veral die veebedryf het voor ’n groot uitdaging te staan gekom weens aantygings dat daar ’n verband tussen die veebedryf, aardverwarming en hartsiektes is.
Daarom stel die UP eersdaags ’n nuwe Instituut vir Voedsel, Voeding en Welsyn bekend wat die universiteit in staat sal stel om op die volle waardeketting van die veebedryf te fokus, van grond tot diereproduksie tot dieregesondheid.
26 Maart 2012