
Luidens ’n verklaring wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling op 23 Junie uitgereik het, mag plantgebaseerde produkte – soos vegetariese biltong, plantgebaseerde frikkadelle of selfs vegan-hoenderrepies – ingevolge regulasies wat in Oktober 2019 afgekondig is, nie produkname gebruik wat vir verwerkte vleisprodukte voorgeskryf en gereserveer word nie.
Luidens die departement se verklaring sou die voedselveiligheidsagentskap verwerkte vleisprodukte ondersoek en ingevolge afdeling 8 van die Wet op Landbouproduktestandaarde (Wet 119 van 1990) beslag lê op plantgebaseerde produkte wat produkname gebruik wat vir verwerkte vleisprodukte gereserveer is.
Fry Family Foods het egter toe al gesê dat daar spesifiek in afdeling 2.2.c van regulasie 1283 aangedui word dat dit nie van toepassing is nie op vleisalternatiewe produkte of nie-vleisgebaseerde produkte wat oor die algemeen dieselfde voorkoms, aanbieding en bedoelde gebruik as verwerkte vleisprodukte (soos vegan of vegetariese tipe verwerkte produkte) het.
Die voedselgesondheidsagentskap het vroeg in Julie vervaardigers van plantgebaseerde produkte versoek om te verseker dat hul verpakking aan die wetgewing voldoen. Op 16 Augustus is ’n kennisgewing uitgereik waarin gewaarsku is dat dié agentskap van vandag (22 Augustus) af beslag sou lê op produkte wat die wetgewing oortree.
LIVEKINDLY Collective Africa het egter namens Fry’s formeel kapsie gemaak teen die wetgewing. As gevolg daarvan moet die departement nou ’n tribunaal byeenroep om die beswaar ondersoek. Tot dié ondersoek afgehandel is, mag die departement nie teen die vervaardigers van plantgebaseerde produkte optree deur byvoorbeeld op hul produkte beslag te lê nie.
“Ons werk saam met die raad vir verbruikersgoedere wat probeer om gesprekke met die departement te begin ten einde wetgewing spesifiek vir die vleisalternatiewe bedryf te ontwerp. Ons beskou dit as die enigste volhoubare uitkoms en ons bly hoopvol,” lui ’n verklaring deur Fry’s.
Die raad vir verbruikersgoedere het op 19 Augustus by die Johannesburgse hooggeregshof ’n interdik teen die departement bekom wat die beslaglegging op plantgebaseerde produkte verhinder. Dié saak is tot 17 September uitgestel.
Luidens ’n verklaring wat die departement op Dinsdag 23 Augustus uitgereik het, sal inspeksies voortgesit word, maar sal daar tot 17 November nie beslag gelê word op enige plantgebaseerde produkte met produkname wat vir verwerkte vleis voorgeskryf word nie.