
Korsten se navorsing van meer as 30 jaar is veral toegespits op die behandeling en voorkoming van plantsiektes en op voedselveiligheid van verskillende landbougewasse.
Die akademie sê in ’n verklaring die prys word aan haar toegeken vir haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en tegnologie, en die suksesvolle toepassing daarvan in landsbelang.
Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die akademie sê haar navorsing het ’n groot effek gehad op die produksie van baie landbougewasse en sy was oor ’n lang tydperk baie nou by verskeie bedrywe betrokke.
Korsten het in reaksie gesê dit is ’n buitengewoon spesiale toekenning vir haar omdat dit ’n platform skep vir erkenning aan al die mense wat haar ondersteun het, soos haar rolmodel en mentor, prof. Jan M. Kotze, ’n plantpatoloog wat net voor die covid-19-tydperk oorlede is. “Ons moet nooit onderskat wat toekennings soos hierdie vir mense en hul gemeenskappe beteken nie – ook vir ’n land en sy mense wat nog worstel met sy geskiedenis en talle probleme. Mag ons saam ’n beter toekoms vir almal bou.”
Korsten is onder meer mede-direkteur van die department van wetenskap en innovasie, die nasionale navorsingstigting en die sentrum van uitnemendheid vir voedselsekerheid waar sy verantwoordelik is vir voedselveiligheid en regulatoriese beheerprogramme. Sy is ook voorsitter van die Internasionale Vereniging vir Plantpatologie se taakgroep vir voedselsekerheid.
Haar navorsing is veral gerig op bekampingsmaatreëls van patogene wat plante besmet en dan siektes in vars produkte veroorsaak wat tot voedselverliese lei. Onder haar leiding het meer as 100 studente meesters- en doktorsgrade verwerf.