
Altesaam 64 grondtransaksies van 15 699 ha is in die jaar tot Mei 2016 in die Rosestad-omgewing geregistreer. Die gemiddelde prys was R28 479 per hektaar. Dit is 'n stygende neiging van 23,6%.
Hierdie ontleding van grondverkope in Suid-Afrika handel oor die grondtransaksies vir stukke grond groter as 20 ha in die Vrystaat vanaf Junie 2015 tot Mei 2016.
In dié tyd is 704 ooreenkomste in 44 distrikte gesluit. Dit het 304 799 ha behels wat teen R3,221 miljard verkoop is.
Daarvan was 73 transaksies van kleur – 10% van die totaal. Transaksies van kleur is dié tussen mense wat nie wit is nie, Regeringsaankope en grond wat vir munisipale gebiede bekom is. In dié proses is 24 956 ha (8,2% van die totaal) teen R360 miljoen (11,2% van die waarde) verhandel.
Uit die totaal was 56 transaksies (8%) vir grond van minder as 50 ha met 50% vir grond van 300 ha en meer. Altesame 19 distrikte toon ‘n dalende prysneiging. Opmerklik uit die inligting is dat grondpryse oos van Bloemfontein oorwegend laer is.
In Jacobsdal is ook ‘n dalende neiging aangeteken, waar grondpryse in die tydperk met 33,4% gedaal het. Altesaam 25 transaksies is by die Aktekantoor geregistreer, wat 19 270 ha beslaan.
Die invloed van die droogte op grondpryse in die provinsie sal waarskynlik eers teen die tweede helfte van die jaar in die prysneigings weerspieël word.
Klik hier om na die ontledings van plaasverkope in elke provinsie en elke distrik in Suid-Afrika te kyk. Kyk na die ontleding van plaasverkope in die Vrystaat.
* Johann Bornman is voorsitter van Agri Development Solutions. Hy verwerk dié inligting op ‘n weeklikse basis vir Landbou.com en Landbouweekblad.