
Dit wil blyk dat private grondtransaksies op die markwaardebeginsel slegs tussen private individue kan plaasvind en ander reëls van toepassing is wanneer grondhervorming ter sprake is.
Dit is die gevolgtrekking van die TLU SA na ’n uitspraak van die Grondeisehof waar markwaarde duidelik nie alleen die faktor vir die bepaling daarvoor was nie. Waarnemende regter Tembeka Ngcukaitobi het onlangs beslis dat die boer aan wie ’n stuk grond naby Middelburg, Mpumalanga, behoort, en wat in ’n grondeis aan ’n huurarbeider toegeken is, nie R4,3 miljoen, vir toekomstige waarde, of R1,8 miljoen, vir landbouwaarde, moet ontvang nie, maar slegs R1,5 miljoen.
Mnr. Danie du Plessis, die nasionale restitusiekoördineerder van die TLU SA, sê Ngcukaitobi se uitspraak oor die verminderde bedrag waarop beslis is, maak die uitspraak verwarrend omdat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming volgens die hofdokumente bereid was om die hoër prys te betaal.
“Die regter het in sy uitspraak beklemtoon dat die Grondwet en Artikel 25 nie markprys en ook nie private besitreg van grond beskerm nie. Openbare belang weeg swaarder as markwaarde en privaatbesit.”
Hy sê dit is dus duidelik dat die Grondwet nie eiendomsreg waarborg nie en sien die uitspraak as die aanduiding van die realiteit hiervan. Die vraag ontstaan dus of die Grondeisehof juridies objektief gaan wees in die Grondhervormingsproses. “Elke saak het sy eie meriete, maar die beginsels wat in die uitspraak neergelê word, is ’n groot rooi lig,” sê hy.
Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, het vroeër daarop gewys dat daar niks in die Grondwet is wat die staat vereis om by die beginsel van gewillige kopers en verkopers te hou wanneer dit kom by die herverdeling van grond nie.
Onteiening
Intussen word daar in spanning gewag om te sien of pres. Jacob Zuma die wysigingswet op onteiening, wat die huidige Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) gaan vervang, gaan bekragtig.
Die Presidensie het onlangs aangedui dat Zuma klarigheid by die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad vir Provinsies gesoek het oor die prosesse wat die Parlement gevolg het om die wetsontwerp te aanvaar.
Dit was nadat verskeie organisasies en individue petisies aan Zuma gestuur het om nie die wetgewing te bekragtig nie weens ongrondwetlike aspekte.
Van boere se kwellinge rondom die wetsontwerp is dat die staat in die toepassing van die wet as ’n standaardbenadering minder as markwaarde se vergoeding sal aanbied, asook die koste verbonde daaraan om dan ’n dispuut in die howe te beveg.