
Willie Ludik, die heel eerste Suid-Afrikaanse Ploegkampioen, gaan Suid-Afrika vanjaar by die Wêreld-ploegkampioenskappe in Frankryk verteenwoordig.
Tydens Nampo 2013 het Sapo (Suid-Afrikaanse Ploegorganisasie) die eerste amptelike Ploegkompetisie van stapel gestuur. Dis hier waar Willie Ludik die trofee verower het asook die titel as eerste Suid-Afrikaanse Ploegkampioen ooit. Willie boer 130 km buite Bloemfontein in Rouxville se rigting.
Vanjaar vind die 61ste Wêreld-ploegkampioenskappe van 5 tot 6 September in die dorpie Saint Jean d’Illac, Bordeaux, Frankryk plaas. Die sport is al vir jare ongelooflik gewild, veral onder die Europeërs. Willie en die ploegspan sal Suid-Afrika op die 27ste Augustus verlaat om Suid-Afrika se naam hoog te hou.
Sapo sal ook vergesel word deur een van Tubestone (BKT Bande) se direkteure, mnr. Alex Friedman. Tubestone is een van die trotse borge van die Graan SA, BKT & Tubestone-ploegkompetisie.
Robert Veneman wat Suid-Afrika volgende jaar as deelnemer in Denemarke sal verteenwoordig, sluit hom ook by hulle aan.
Willie Ludik, ploegkampioen.
Willie aan die oefen.
Kyk net die netjiese rye!