
’n Aksieplan is in plek om Suid-Afrika gereed te kry om braaihoender na die Midde-Ooste en Angola te kan uitvoer.
Me. Imamoleng Mothebe, direkteur van internasionale ontwikkeling van die Departement van Handel en Nywerheid, het by die pluimveekongres AVI Africa in Kempton Park gesê ‘n vyfjaarplan van aksie is opgestel om uitvoer moontlik te maak.
Dié departement en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye asook die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het oor die plan ooreengekom. “Daar was baie gesprekke die laaste agttien maande oor hoe die agteruitgang van die bedryf teëgewerk kan word.”
Die partye het besluit om op die Midde-Ooste te fokus omdat baie hoendervleis daar geëet word.
Angola sal ook geteiken word, omdat die land 'n netto-invoerder van hoendervleis is. Maar Mothebe sê dit sal ‘n moeilike mark wees om te betree, omdat Brasilië reeds hoender soontoe uitvoer.
Die aksieplan behels dat aandag aan verskeie aspekte gegee moet word, soos beter doeltreffendheid in die voorsiening van voer en die produksie van dagoudkuikens en braaihoenders asook met die nakoming van sanitêre en fitosanitêre maatreëls.
Mothebe het verskeie lande as potensiële uitvoermarkte genoem, maar het gesê op kort termyn wil die departement minstens een of twee markte vir Suid-Afrikaanse produkte toeganklik maak.
Op ’n vraag uit die gehoor of die departement reken sy hoër invoertariewe van verlede jaar gee die bedryf genoeg beskerming, het Mothebe gesê dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het met die aankondiging daarvan gesê dit sal hersien word. “Ons besef die tariefvlakke bied nie die kussing wat die bedryf nodig het om te oorleef nie. Maar die bedryf het ook ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat hy mededingend is. Nie alle probleme kan deur tariewe opgelos word nie,” het sy gesê.