Die verbod op die uitvoer van pluimvee wat verlede week ingestel is, slaan nie die pluimveebedryf hard nie, sê die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging (SAPA).
Die verbod is ingestel nadat die H5N2-stam van voëlgriep by volstruise naby Oudtshoorn gevind is. Mnr. Kovin Lovell, uitvoerende hoof van SAPA, sê verliese vir die totale bedryf is minimaal. “Altesame 17 000 ton pluimveevleis is verlede jaar uitgevoer, terwyl die totale produksie vir 2010 1,6 miljoen ton beloop het.”
Lovell sê dit is die derde keer in vyf jaar dat ’n vorm van voëlgriep in die land voorkom, maar dit is nog nie een keer in hoenders gevind nie. Volgens Lovell kan die verbod wel ondernemings wat op uitvoer konsentreer, hard slaan.
Zimbabwe se grens
Intussen sê mnr. Chris Schutte, die hoof uitvoerende beampte van Astral Foods, hulle het sowat ’n week se uitvoer na Zimbabwe verloor. “Zimbabwe het Donderdag (21 April) laat aangedui dat hy weer hoendervleis wat nie van die Wes-Kaap kom nie, sal aanvaar.” Hy sê die maatskappy se verliese is minimaal.
Hoop vir vinnige herstel
Mnr. Anton Kruger, die uitvoerende hoof van die Volstruisbesigheidskamer, sê hulle hoop dat die verbod so spoedig moontlik opgehef sal word, want vir elke maand wat die verbod geldig is, verloor die bedryf R108 miljoen aan uitvoer. Die uitvoer van velle en vere kan wel steeds voortgaan.
Kruger sê die sowat 5 000 volstruise wat verlede week van kant gemaak moes word, se velle en vere kon gebruik word en die boere is ten volle vergoed vir die diere. 'n Volstruis is gemiddeld R2 200 werd. “Die vleis moes wel teen 100 grade Celsius gaargemaak word en dit sal in troeteldierkos gebruik word. Ons vermoed die siekte is deur wilde voëls aan die volstruise oorgedra, aangesien daar internasionaal sulke tekens bestaan,” verduidelik Kruger.
Die werkers
Intussen het me. Patricia de Lille, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, en mnr. Gerrit van Rensburg, die Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, aangekondig dat ’n spesiale taakspan na die lot van werkers wat deur die verbod geraak word, sal kyk. Die plaas wat geraak word, sal moontlik drie maande buite aksie wees. Dit verskaf werk aan sowat 120 mense.
Die plaaslike slagplaas, wat ’n inkomste aan 600 werknemers verskaf, asook ses ander slagplase se bedrywighede sal ook stilstaan totdat die verbod opgehef is.
26 April 2011