
Dr. Deon Barnard (62), voedingshoof van Meadow Feeds se pluimvee-afdeling, is Saterdag, 14 Junie, in 'n motorongeluk oorlede.
Mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte van die pluimveemaatskappy Astral, het in 'n verklaring gesê hy is baie hartseer oor die verlies aan 'n gewaardeerde kollega en vriend. Barnard het in 1985 by Astral se voerafdeling Meadow Feeds begin werk.
Volgens Schutte was Barnard hoogs gekwalifiseerd en internasionaal erken as 'n kundige in sy veld. Hy het langer as 30 jaar as sekretaris en tesourier van die Suid-Afrikaanse tak van die Wêreldvereniging vir Pluimveewetenskap gedien. Hy was ook lid van die tegniese komitee van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV).
Barnard het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en in 1991 sy doktersgraad in landbou aan die destydse Universiteit van Natal verwerf. Hy het sy loopbaan in 1978 by Golden Lay Farms begin, waarna hy hom by Meadow aangesluit het.
“Sy dood is 'n tragiese verlies vir die maatskappy. As voedingshoof van die pluimvee-afdeling was hy verantwoordelik vir navorsing en ontwikkeling op die gebied van pluimveevoeding en die evaluering en beheer van bestanddele. Sy dood is ook 'n groot verlies vir die groter Suid-Afrikaanse pluimveegemeenskap en sy heengaan sal 'n leemte in Astral asook in die bedryf laat,” het Schutte gesê.
Astral het sy innige meegevoel met Barnard se familie en kollegas uitgespreek. 'n Gedenkdiens vir hom word op Vrydag 20 Junie om 11:00 by die Rant-en-Dal-gemeenskapskerk op die hoek van Swallow- en Eaglestraat in Rant-en-Dal, Krugersdorp, gehou.