
In die Paardeberg-omgewing in die Wes-Kaap moes 140 000 lêhoenders van kant gemaak en eiers vernietig word, toe die hoogs aansteeklike H5N8-pluimveevirus daar gevind is.
Die Wes-Kaap is die derde provinsie wat deur dié virus geraak word, met uitbrekings wat voorheen hoofsaaklik in Mpumalanga en Gauteng plaasgevind het. Pluimveeprodukte wat in kettingwinkels en winkels beskikbaar is, is veilig om te eet.
Die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het aangedui dat 16 uitbrekings, sedert die eerste uitbraak in Junie, by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld is. Meer as 600 000 pluimvee is al van kant gemaak. Meer as 47 800 voorvalle van die virus het voorgekom en meer as 2,1 miljoen pluimvee word geraak.
Eerste by Heidelberg
By Heidelberg in die Wes-Kaap het geen sterftes voorgekom onder die meer as 1 000 volstruise waar 22 van die voëls positief vir die virus getoets het nie. Hierdie was die eerste voorval van die virus wat in dié provinsie ontdek was.
Me. Petro van Rhyn, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, het Maandag aangedui dat meer as 30 000 hoenders op die betrokke plaas in die Paardeberg-omgewing reeds van kant gemaak is en dat die res van die hoenders uitgeslag moet word. Die hoenders het waarskynlik met wildevoëls in kontak gekom.
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse Minister van landbou en ekonomiese aangeleenthede, het gesê die virus bied ’n uitdaging siende dat wilde voëls dit versprei en veeartse werk hard om die verspreiding van die virus te bekamp.
Riglyne vir boere
Intussen het die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bekend gemaak dat die voorgestelde riglyne van hoe boere wie se pluimvee uitgeslag moes word en eiers gebreek moes word, vergoeding sal ontvang.
Me. Bomikazi Molapo, woordvoerder van Landbouminister Senzeni Zokwana, het gesê die voorgestelde riglyne is voltooi en moet nog net deur Zokwana en uitvoerende hoofde in die pluimveebedryf goedgekeur word.
Die bedryf het ook versoek dat die Regering toestemming moet gee om vrugbare eiers in te voer om die gaping toe te maak wat ontstaan het weens die uitslag van die voëls.
Deeglike analises
Sy het aangedui dat die departement eers ’n deeglike risiko-analise sal moet doen voordat die versoek goedgekeur word om te keer dat die land aan ander siekterisiko’s blootgestel word.
Die twee opsies wat die Regering aan die pluimveebedryf gaan voorhou is, dat die ingevoerde eiers onder streng kwarantynmaatreëls in Suid-Afrika onderhewig sal wees, óf dat die eiers moet kom van ’n land waar dit aan streng kwarantynmaatreëls onderhewig was om te verseker dat dit vry van spesifieke siektes is.