Jagkwotas is in Limpopo se natuurreservate aan grondeisers toegeken sonder dat ekologiese studies vooraf gedoen is.
Die departement wat verantwoordelik is vir natuurbewaring in Limpopo het ’n onhoudbare situasie vir volhoubare natuurbestuur geskep deur regte aan eisers in reservate toe te ken selfs voordat dié eise bevestig of afgehandel is.
Dit het daartoe gelei dat eisers met die bestuur inmeng en dreig om reservate oor te neem. ’n Babelse verwarring heers oor die toekoms van die Blouberg-natuurreservaat by Vivo nadat die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme onregmatig regte aan een van die grondeisers in die reservaat gegee het voordat vasgestel is of die eis geldig is.
Die departement het in 2009 “in ’n poging om die wildbedryf te hervorm” die Manoko-eisers die reg gegee om wild, waaronder buffels, kameelperde, bokke en vlakvarke, in die reservaat te jag.
Die semi-staatsinstelling Limpopo Toerisme het ook ’n samewerkingsooreenkoms strydig met die Nasionale Samewerkingsraamwerk en moontlik ook die Wet op Beskermde Gebiede namens die departement met die Manoko’s aangegaan vir die bestuur van die kampe in die reservaat.
Onwetttige optrede
Die geldigheid van dié eis is nog nie bepaal nie en die departement het waarskynlik onwettig opgetree. Dit blyk dat dié departement jag-kwotas ook aan eisers van ander reservate gegee het en dit verlede jaar weer teruggetrek het omdat ekologiese studies nie gedoen is nie en dispute oor eise in sommige gevalle nie opgelos was nie.
Eisers het onder mekaar begin baklei oor die regte, sê mnr. Dawie Marais, ’n prokureur van Polokwane. Marais verteenwoordig een van twee blanke boere wat ook eise op dele van Blouberg ingestel het nadat hulle grond moes afstaan met die stigting van die reservaat.
Daar het niks van dié eise gekom nie. Hy het die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti, namens mnr. Gideon Holtzhausen versoek om die saak te ondersoek.
Manoko het aan Landbouweekblad gesê“ ingewikkelde kwessies” vertraag die afhandeling van die eis. Die eis is op 26 Augustus vanjaar vir die derde keer in die Staatskoerant gewysig. Volgens die kennisgewing is dit op 29 Desember 1998 ingedien.
Manoko sê hulle wag op goedkeuring deur die Kabinet dat die aanvanklike sperdatum vir restitusie- eise tersyde gestel word, om nog grond te eis wat weens ’n “tegniese fout” nie by die aanvanklike eis ingesluit is nie.
4 Oktober 2011