
Al hoe meer polisielede is betrokke by veediefstal in Mpumalanga en dit word op groot skaal toegesmeer, sê mnr. Danie du Plessis, streekverteenwoordiger van TLU SA in Mpumalanga.
Leanne George van Beeld berig Ao. Themba Khuhlase (43), ’n polisieman van Ermelo, en sy seun, Mxolisi Shabalala (27), is op heter daad met vyf gesteelde skaapkarkasse in ’n polisiebakkie betrap.
Hulle het verlede Maandag in die hof verskyn op aanklagte van veediefstal en hul aansoeke om borgtog word op 15 Augustus aangehoor.
Du Plessis sê TLU SA is bewus van bewerings dat polisielede op Ermelo, Bethal, Secunda, Piet Retief en Trichardt betrokke is by veediefstalsindikate en hulle het van dié lede se name. Brig. Selvy Mohlala, Mpumalanga se provinsiale polisiewoordvoerder, sê die provinsiale polisie het die afgelope jaar ’n hele paar polisielede weens veediefstal in hegtenis geneem. Volgens die berig is kenners dit eens dat polisiebetrokkenheid by misdaad toeneem.
Volgens Agri SA se jaarverslag vir 2012-’13 het veediefstal in Mpumalanga, veral Ermelo, Amersfoort en Piet Retief, gelei tot ’n beduidende afname in skaapboerdery en gepaardgaande wolproduksie in dié gebiede.
Bron: Beeld.