Die vinnige reaksie van polisiebeamptes ná twee plaasaanvalle in die Wes-Kaap word geloof, aldus Agri Wes-Kaap.
Luidens ’n nuusverklaring sê die organisasie “Ons wil graag die plaaslike polisietakke en veral die landelike veiligheidseenhede met wie ons op grondvlak werk, loof vir hul vinnige reaksie in tye van plaasaanvalle en plaasmoorde in die provinsie.”
Dit volg ná ’n tweede wrede aanval in vier dae in die provinsie voorgekom het. Me. Shirleen Booysen is Maandag (21 November 2011) vermoedelik tussen 18:00 en 20:00 grusaam in haar huis op die plaas Blaawkrans naby Grabouw aangeval.
Booysen het ernstige skietwonde opgedoen en sy is in ’n kritieke toestand in ’n plaaslike hospitaal. Die polisie ondersoek die saak. Dit is nog nie duidelik hoeveel aanvallers betrokke was nie en die motief vir die aanval is onbekend.
Tydens die eerste aanval is mnr. Pieter Loubser, en sy vriendin, Brenda van der Westhuizen, met byle op hul melkplaas naby Malmesburg aangeval.
Veiligheidsplan
Mnr. Carl Opperman sê hulle is baie bekommerd oor dié aanvalle en die feit dat hulle sukkel om met die polisie-generaal in die provinsie te vergader om landelike veiligheid te bespreek.
“Ons sukkel sedert Junie om ’n afspraak te kry om die versoeke en klagtes van ons lede, maar veral die toepassing van die nasionale, landelike veiligheidsplan, te bespreek,” aldus Opperman.
Hy sê: “Ons kan nie net sit en toekyk hoe mense aangeval en vermoor word nie, ons verwag van die Regering, spesifiek die wetstoepassers, om alles in hul vermoë te doen om seker te maak dat elke mens in die provinsie en die land in ’n veilige omgewing leef en werk en dat oortreders in geen onseker taal verantwoordelik gehou word vir hul dade.”
Kommer
Intussen sê mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, hy neem met groot kommer kennis van die twee plaasaanvalle. Hy sê dit is bekend dat landelike gebiede kwesbaar is vir misdaad, en dit is belangrik dat plaasbewoners hul eie veiligheid as voorrangsaak moet sien.
“Plaaseienaars en plaaswerkers is vir almal se veiligheid absoluut van mekaar afhanklik. Daar bestaan reeds polisieforums waarby boere en plaaswerkers aktief betrokke is, maar ek wil mense wat nog nie by hierdie forums ingeskakel het nie, aanmoedig om betrokke te raak. Dit is in die belang van almal se veiligheid en die stabiliteit van ons landelike gebiede,” aldus Van Rensburg.
22 November 2011