Die Polisie is by die Openbare Klagtedirektoraat (OKD) en die Openbare Beskermer (OB) aangegee weens sloerdery met die strafregtelike klagtes wat teen drie ministers gelê is oor hulle versuim om op te tree teen waterbesoedeling.
Mnr. Louis Meintjes, onder-voorsitter van die TLU SA en voorsitter van die Nasionale Waterforum (NWF), het op 7 Mei verlede jaar die klagtes by die Brooklyn-polisiekantoor gaan lê.
Meintjes sê dit bly ‘n voortdurende stryd om behoorlike terugvoer van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te kry.
Die proses
Volgens Meintjes is die eerste gesprek, na baie moeite, (op 25 Augustus) met genl. maj. Taioe en kol. Louis Bester van die SAPD gevoer. Tydens die gesprek is onderneem dat Bester die hele ondersoek, wat oor ‘n wye geografiese gebied strek, sal koördineer.
“Eers op 7 Oktober is die eerste terugvoer van kol. Bester ontvang. Op 29 Oktober rapporteer hy dat die dossier verwys is na die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV). Verskeie versoeke is gerig en uiteindelik het ’n vergadering op 10 Desember plaasgevind tussen die TLU SA/NWF, die SAPD en die Deptement van Waterwese,” verduidelik Meintjes.
Tydens die vergadering is besluit dat daar op ‘n brief van die DOV oor die stand van vervolging gewag sal word, en dat die Departement van Waterwese en Omgewingsake riglyne teen 10 Januarie beskikbaar sal stel.
Die departement moes ook onder meer die Nasionale Beplanningskommissie, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die Departement van Mynwese, die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, die Departement van Justisie, die Departement van Menslike Hervestiging, Agri SA en Nafu by die saak betrek.
Meintjes sê nog geen terugvoer is van enige van die partye ontvang nie, en op twee gevalle waar navrae gedoen is, is erkenning van ontvangs nie beantwoord nie.
Vervolg verantwoordelikes
“Intussen gaan die waterbesoedeling in baie gevalle voort. Dit word tyd dat hierdie saak dringend aangespreek word, en ons glo dat as daar ’n goeie voorbeeld gestel word deur ’n verantwoordelike persoon of persone te vervolg, en die swaarste moontlike strawwe te laat oplê, daar dalk iets sal begin gebeur,” vertel Meintjes.
21 Februarie 2011