
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die aankondiging gister (1 Augustus) op ’n mediakonferensie in Pretoria gemaak.
Volgens Masemola sal polisiëring verbeter word ten einde ernstige en gewelddadige misdade te verminder. Die analise van misdaadbedreigings en -neigings sal as raamwerk vir verskerpte ontplooiing ingespan word.
Masemola het gesê daar is reeds bevind dat die meeste ernstige en gewelddadige misdade van Vrydag tot Maandag gepleeg word.
Blitsveldtogte sal in alle provinsies onderneem word met hoë vlakke van sigbaarheid. Bekampingsveldtogte sal gedurende naweke onderneem word. Ernstiger toepassing van die Wet op Vuurwapenbeheer, die nasionale en provinsiale drankwette en die Wet op Tweedehandse Goedere, asook die reël van strategiese padblokkades is nou die maatstaf waarteen bevelvoerders se prestasie gemeet sal word.
Masemola het gesê gedurende Julie alleenlik is beslag gelê op 1 173 onwettige vuurwapens en 7 738 patrone, hoofsaaklik in Gauteng. Hy meen dit sal die voorkoms van ernstige en gewelddadige misdade verminder.
Meer as 22 320 verdagtes is landwyd in hegtenis geneem – 3 193 vir aanranding, 576 vir moord, 360 vir poging tot moord, 432 vir verkragting en 177 vir seksuele misdrywe.
Volgens Masemola is ’n multidissiplinêre span ondersoekers op die been gebring om die naweek se voorval in West Village, waartydens agt jong vroue herhaaldelik verkrag is en waarna meer as 80 verdagtes in hegtenis geneem is, deeglik te ondersoek en te verseker dat reg en geregtigheid geskied.
Op die konferensie is aangekondig dat lt.genl. Koliswa Constance Otola as provinsiale polisiekommissaris in die Noord-Kaap aangestel is.