Die Polisie het in ’n massiewe aksie teen vermeende renosterstropersbeslag gelê op bates van tot R55 miljoen.
Dié beslaglegging het gister plaasgevind met die Nasionale Vervolgingsgesag, die departement van omgewingsake en die Valke wat op mnr. Dawie Groenwald se huis in ’n veiligheidskompleks in Polokwane toegeslaan het.
Swaar gewapende polisielede, vergesel deur lede van die media wat op uitnodiging saamgekom het, het aan die beslagleggingsaksie deelgeneem. Tydens so ’n optrede word alle besittings opgeskryf en dit mag daarna nie verkoop of weggedoen word nie, berig Volksblad.
Mnr. Hennie Erwee, Groenewald se prokureur, het die polisie se optrede as magsvertoon beskryf. Die Groenewalds gaan moontlik die aksie teenstaan. Verskeie opgestopte wild, insluitende buffels en seekoeie, is in Groenewald se huis te sien. Die polisie soek ook tans na twee helikopters wat glo aan hom behoort.
Hy staan saam met 12 medebeskuldigdes tereg op 1 872 klagte, insluitende rampokkery en renosterstropery. Die hofsaak teen die beskuldigdes begin op 19 Oktober.
Bron: Volksblad
10 Mei 2012