Goeie samewerking tussen die polisie en die gemeenskap van Wakkerstroom het daartoe gelei dat misdaad daar die afgelope tyd ’n bloedneus toegedien is.
Twee sindikate wat vermoedelik by vee- en kabeldiefstal betrokke is, is aangekeer. Tien mans, waaronder ’n sakeman, is in hegtenis geneem in verband met die diefstal van nege beeste.
Nadat hulle vier weke lank aangehou is, is drie van die mans verlede week onder streng borgvoorwaardes vrygelaat, terwyl die res in aanhouding bly.
Speursersant Hennie Koch, die ondersoekbeampte, sê waar daar voorheen bykans ’n veediefstalsaak per dag aangemeld is, was daar die afgelope vier weke nie ’n enkele voorval van veediefstal nie.
Samewerking
“Samewerking deur die gemeenskap vergemaklik veediefstalondersoeke en ek wil die publiek vir hul bydrae bedank. Dit gebeur nie aldag dat verdagtes in die hele proses – van die uitjaag van die beeste totdat hulle verkoop word – aangekeer word nie.
"Inligting is ontvang oor waar die gesteelde beeste aangehou is en ons het hulle dae lank dopgehou totdat die vermeende koper opgedaag het.”
Mnr. B.P. Greyling, bekende boer van Wakkerstroom, het ook die polisie geloof vir hul optrede. “Daar is al langer as 20 jaar samewerkingstrukture tussen die polisie en die gemeenskap van Wakkerstroom en dit werp vrugte af. Ons sal graag wil hê nog meer mense moet as reserviste betrokke raak.”
17 Oktober 2011