
Dié waarskuwing kom nadat ’n aantal vragmotorbestuurders aangedui het dat hulle beroof is deur groepe gewapende verdagtes wat agter bosse uitgespring het toe hulle stilgehou het om hulself te verlig of hul bene te strek, sê brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder.
Daar was ook voorvalle waar kapers vir vragmotorbestuurders aangedui het dat daar iets fout is met hul sleepwaens. Die kapers oorval hulle dan sodra hulle aftrek. In sekere gevalle het verdagtes vragmotors se pype gesny om die diesel te steel. Gedurende dié voorvalle is batterye en selfone ook gebuit.
“Die polisie versoek die gemeenskap om nie vir enige rede langs die pad, veral die paaie wat aangedui is, stil te hou nie. Hou eerder stil by ’n veilige plek pleks daarvan om hierdie rowers se volgende slagoffer te word.”
Intussen doen die polisie alles moontlik om te verseker dat mnr. Fortune Nzima (32), Tebogo Moshia (28) en Bonny Motsepe (28) vervolg word vir ’n vragmotorkaping op 18 Maart by Middelburg. “Dit is een van die polisie se verskeie pogings om dié probleem hok te slaan, maar die beste sal wees om sulke voorvalle so ver as moontlik te voorkom.”
Enigiemand met inligting wat tot verdere inhegtenisnemings kan lei, word versoek om die polisie te kontak by 013 249 1600/1/2/4 of Crime Stop by 08600 10111.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, Mpumalanga-polisiekommissaris, sê alles sal in die stryd gewerp word om die rooftogte te bekamp. “Ons versoek lede van die publiek met inligting, beeldmateriaal of besonderhede oor die oortreders, wat die land se ekonomie direk beskadig deur vragmotors wat goedere vervoer aan te val, om die polisie te kontak.”