
Gewelddadige protesaksie is vermoedelik deur ontevrede plaaswerkers begin nadat hulle Woensdagoggend (20 April) ’n petisie aan amptenare by die munisipale kantore in Kirkwood oorhandig het, sê brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder.
Die werkers vereis glo loonverhogings en dat daar ’n beperking geplaas word op die hoeveelheid buitelanders wat in diens geneem word.
Volgens Kinana het diegene wat aan die protesaksie deelgeneem het ná die petisie oorhandig is in kleiner groepe opgebreek en buitebande op meeste toegangsroetes in Kirkwood en sommige gedeeltes van Addo begin brand. Sommige plase is ook vermoedelik deur hulle beskadig.
Lede van Gqeberha se openbare orde-eenheid en omliggende polisiestasies is ontplooi om die situasie te monitor. Alle toegangsroetes is met minimale onderbreking weer oopgestel.
Kinana sê minstens 8 kriminele sake word in verband met die protesaksie ondersoek. Die polisie versoek dat inwoners en verantwoordelike werkers nie aan onwettige aktiwiteite deelneem nie.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene, polisiekommissaris in die Oos-Kaap, sê terwyl dit elke werker se grondwetlike reg is om aan protesaksie deel te neem, word daardie reg te ver geneem as dit ander mense se regte skend of hul eiendom beskadig.