Politiek hoort nie in die landbou nie, en vir die bedryf se voortbestaan is eenheid in die georganiseerde landbou nodig, aldus mnr. Neels Ferreira, uittredende voorsitter van Graan SA.
Tydens die organisasie se jaarkongres by Bothaville het Ferreira Graan SA-lede se ondersteuning gevra vir die inisiatief wat reeds bestaan om samewerking binne die sektor te bewerkstellig.
“Ons wil niemand wegwens nie, maar indien ons nie leierskap aan die dag lê vir die landbou nie, moet ons nie wag vir Eskom om die ligte af te skakel nie. Politiek hoort nie in die landbou nie, die spesifieke doel daarvan is om plattelandse ekonomieë te stimuleer en groei te bewerkstellig,” aldus Ferreira.
Vier hoeke van die bedryf
Volgens Ferreira het die georganiseerde landbou besluit om kommunikasie met die Regering te bewerkstellig deur die samewerking vanuit die vier hoeke van die bedryf. Prof. Mohammad Karaan van die Universiteit van Stellenbosch het dié samewerking gefasiliteer.
“Dit was baie nodig. Want wat gaan die staat doen as hy na vier verskillende stemme moet luister. Wat ek sou doen, is wat ek wou. Funksionele samewerking is nodig sodat ons uit een hoek saam praat,” vertel Ferreira.
Ferreira tree die jaar uit as voorsitter van die organisasie, nadat hy sedert 2006 in dié amp gedien het.
7 Maart 2012