
In ‘n vorige artikel is genoem dat die verhoging in Amerikaanse rentekoerse kan beteken dat die dollar verswak, en die rand versterk. Daar was geïllustreer dat die sogenaamde rentekoersdifferensiaal sal vernou, wat ‘n swakker rand tot gevolg kan hê.
Nadat die Amerikaanse Federale Reserwe (Fed) rentekoerse met 25 basispunte op 15 Maart 2017 verhoog het, was die verwagting dat die dollar dus sou versterk, en die rand sou verswak. ‘n Swakker rand het egter eers tevoorskyn gekom op Maandag, 28 Maart 2017, ná bespiegelings oor die moontlike vervanging van die Minister van Finansies, mnr. Pravin Gordhan, deur iemand anders, byvoorbeeld Brian Molefe.
Grafiek 1:
‘n Swakker dollar, ten spyte van hoër rentekoerse, kan moontlik toegeskryf word aan die volgende twee faktore in die VSA:
Pres. Donald Trump se voorgestelde verandering van die publieke gesondheidsorgstelsel, beter bekend as Obamacare, is nie ingestem soos verwag nie. Hierdie voorgestelde verandering was een van Trump se hoofverkiesingsbeloftes, en daar word nou gewonder of hy sy ander beloftes, soos laer belastingkoerse en fiskale besteding, gestand sal kan doen.
Die Amerikaanse Fed het tydens die aankondiging op 15 Maart 2017 aangedui dat ‘n meer gematigde benadering gevolg sal word met verdere rentekoers verhogings in die VSA vir die res van 2017. Die president van die Fed, me. Janet Yellen, het ‘n sogenaamde “dovish” houding ingeneem. Hierdie gematigheid was nie wat valutamarkte verwag het nie, en ‘n swakker dollar was die gevolg.
Grafiek 2:
Terug na Suid Afrika: Wat die plaaslike politieke situasie betref, het die rand skerp verswak toe pres. Jacob Zuma op 27 Maart 2017 vir mnr. Pravin Gordhan beveel het om terug te keer na Suid Afrika ten tye van laasgenoemde se voorleggings aan beleggers in die Verenigde Koningkryk.
Om te bepaal hoe ‘n geldeenheid mag reageer in die kort en medium termyn kan na verskeie faktore gekyk word, onder andere die vloei van fondse in en uit die land, rentekoerse en verwagte ekonomiese groei. Alhoewel hierdie faktore nie presies voorspel kan word nie, is daar tog sekere verwagtings wat bestudeer kan word.
Politici kan hul stellings maakDie probleem met politieke invloed is dat dié verwagtings minder sekerheid inhou. ‘n President kan na willekeur besluit om sy Kabinet te verander soos hy goeddink. Dan is daar ook nog ander politici wat op die wisselkoerse kan impakteer deur die stellings wat hulle maak. ‘n Voorbeeld hiervan is Julius Malema wat meen dat Zuma vir Gordhan in die pad gaan steek ná die begrafnis van Ahmed Kathrada op Woensdag 29 Maart 2017.
Wat sal gebeur as Gordhan in sy pos bly? Die rand kan dan sy sterk onlangse prestasie voortsit. Die les wat uit die bostaande geleer moet word, is dat Suid- Afrikaners ten minste ‘n deel van hulle bates op ‘n permanente basis teen ‘n swakker rand behoort te verskans.
* Edwin Smit is ‘n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ‘n Gemagtigde Finansiële Dienste Verskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39 889, en ook ‘n geregistreerde JSE handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Sy kontakbesonderhede is: (012) 484-4013 of edwin.smit@bvg.net. Lesers is welkom om hom te kontak om in te teken vir BVG se daaglikse valuta- en aandele-mark oggendverslae. BVG werk, onder andere, in assosiasie met Momentum SP Reid Securities. BVG werk ook saam met een van die top 5 banke om vir kliënte bankrekenings met hoër rentekoerse oop te maak.