
Volgens mnr. Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, lei die gebrek aan politieke wil van die Regering om waterverwante sake volhoubaar te hanteer tot ’n waterkrisis in Suid-Afrika. “Ons het gesien dat verskeie waterverwante kwessies regdeur die land die gehalte en voorsiening van ons water beïnvloed, maar dit wil voorkom of politiek verhoed dat volhoubare oplossings toegepas word om daardie kwessies te hanteer,” sê hy.
“Dit is duidelik dat die huidige politieke beleid ’n direkte uitwerking op ons waterdienste het. Onbevoegde personeel bly in hul poste weens politieke beleid, onverantwoordelike bestuur lei tot niebetaling vir kritieke dienste aan byvoorbeeld Eskom vir elektrisiteit, of aan waterdiensverskaffers, en samewerkende regering lei daartoe dat plaaslike owerhede nie aanspreeklik gehou word vir besoedeling of ander kriminele aktiwiteite nie,” sê Kleynhans.
“Ons het hierdie jaar gesien dat babas sterf, nog riviere besoedel word, infrastruktuur verval en ’n stad sonder water sit. Die ekonomie word deur die nalatigheid van die bewaarders van ons water beïnvloed,” voeg Kleynhans by.
AfriForum glo dat die volgende toegepas moet word om volhoubare bestuur van Suid-Afrika se waterbronne te verseker:
- ’n Onafhanklike waterreguleerder moet ingestel word om as waghond op te tree en te verseker dat die publiek se belange beskerm word deurdat die Departement van Waterwese en Sanitasie, waterrade en alle munisipaliteite aan bestaande wetgewing voldoen. Die kapasiteit van die privaatsektor moet op ’n groter skaal benut word om waterdienste te bestuur sodat goeie gehalte watervoorsiening, belegging en billike pryse verseker kan word.
- Beleide moet verander word om te verseker dat professionele en bevoegde personeel in diens geneem word.
- Professionele persone moet tenders evalueer en dit moet aan spesialismaatskappye toegeken word.
- Behoorlik-befondsde instandhoudings- en werkskontrakte moet aan bevoegde maatskappye toegeken word.
- Opvoedingsprogramme moet op alle vlakke toegepas word om Suid-Afrikaners oor water op te voed.
- Die Bloudruppelverslag vir 2014, asook die Groendruppelverslag vir 2013, moet binne sewe dae vrygestel word. Die publiek het die reg om te weet.
“As ons wil hê dat die ekonomie moet groei, en ’n volhoubare voorraad water van ’n goeie gehalte wil verseker, moet ons radikale veranderinge binne die portefeulje vir water en sanitasie in Suid-Afrika hê,” sê Kleynhans.
Maak jou stem dik teen onverantwoordelike waterbestuur deur by AfriForum aan te sluit. SMS “water” na 45354. R1/SMS.