
Politieke onsekerheid het gestyg tot op dieselfde vlak as tydens die moord in 1993 op die anti-apartheidsaktivis, Chris Hani.
Só het prof. Stan du Plessis, makro-ekonoom en hoof van die fakulteit van ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, gesê by die tweedaagse kongres van die landbousakekamer, Agbiz.
Die afgelope 20 kwartale sedert die resessie is ekonomiese uitbreiding grootliks in die openbare sektor waargeneem. Dit is die sterkste groei wat dié sektor sedert 1970 ondervind het. Hierteenoor was die private sektor die swakste bydraer tot arbeidsuitbreiding sedert daardie jaar.
Wat kommerwekkend is, is dat private ondernemings nie gretig is om te belê in die uitbreiding van kapitaal nie, het Du Plessis gesê.
Opnames van die Buro vir Ekonomiese Navorsing wys dat sake-ondernemings nie genoeg vertroue het om in verdere uitbreidings te belê nie. Van die redes wat genoem word, is dat hulle nie genoeg vaardige werkers kan kry nie, finansiering te duur is en politieke onsekerheid.
Die afgelope ses kwartale het sakeleiers aangedui dat politieke spanning hulle weerhou om uit te brei. Politieke onsekerheid was in die tyd toe land in 'n politieke oorgangsfase was as 'n rede gelys en hoë vlakke soos nou, was laas gesien met die moord op Chris Hani, het hy gesê. “Iets het tussen die sakesektor en die Regering verkeerd geloop.”
Mnr. Schalk Pienaar, voorsitter van Agbiz, het gesê hoewel daar baie gunstige ontwikkelinge rakende die beleid en wetgewing wat ontwikkel is, is hy bekommerd oor die Regering se vermoë om dit toe te pas.
Hoë vlakke van werkloosheid en lae grade van dienslewering is nie goed vir die ekonomie nie. Die landboubedryf bevind hom in die middel van al hierdie ontwikkelinge en skuiwe en daarom moet hy voordurend sy omgewing bepaal en hom herposisioneer om voor te bly met die veranderende en dinamiese wêreldorde sodat mededingendheid en volhoubaarheid verseker kan word.