
Baie boere langs riviere wat weens die droogte onvoldoende watervloei gehad het, sal getuig dat ’n storm altyd nodig is om die rivier skoon te spoel van riete en ander ongewensdhede. Geraaktes is veral dankbaar vir so ’n skoonmaak-storm as hulle betyds gewaarsku is om hul toerusting te verskuif.
Met verloop van tyd het boere al hoe beter geword met voorkoming, met gevolglike minimale verliese. Net dié wie nie wou hoor nie, het spreekwoordelik gevoel. Daar was duidelike tekens van dié politieke tsoenami en alhoewel faktore ongemaklike vlakke na beheerbaarheid bereik het, was dit ’n skoonmaak-aksie wat nodig was. Wat nou bepaal moet word, is of die storm sterk genoeg was om blywende skade te doen en indien nie, hoe vinnig herstel kan voortgaan.
Die geskiedenis gaan bewys dat die storm nie die vloei van die rivier verander het nie, maar dat die golf water verlore gegaan het weens beperkte opgaarvermoë. Toerusting is betyds verwyder en gereed om teruggesit te word om weer te werk.
Herstel na die storm
Dié metafoor word verklaar aan die hand van ’n siening dat ’n groot aantal betrokkenes in die aanloop van die komende tsoenami, dermate gesensiteer is dat hulle na hoë (politieke) grond kon beweeg om van daar, bemagtig met ander insigte op en ondervinding van die storm, nuwe planne te maak vir vinnige herskikking.
Daar is beswaarlik niemand in die land wie nie ’n mening het oor die verloop van sake nie en die grootste waarde setel in dié ingeligtheid. Ingeligtes kan en gaan druk uitoefen vir die daarstel van ’n beter dispensasie, al was laasgenoemde nie noodwendig die uitkoms van die veranderings aan die Kabinet nie.
Die saak is so geventileer dat daar min beweegruimte gaan wees vir die nuwelinge anders as om erkende reëls te eerbiedig. Laasgenoemde is dalk een van die redes waarom die nuwe Minister van Finansies sy belange baie vinnige verklaar het en ook afwysend was ten opsigte van juis dit wat tot sy voorganger se afdanking aanleiding gegee het.
Hy moes hom uitdruklik verbind tot norme en standaarde wat sal bly geld, al is dit onder die (nou meer) wakende oë van die Parlement en Jan Alleman. Die rivier se loop kan nie sommer ligtelik verander nie, maar die beste van die sleg van die tsoenami is die blootleggende gevolge.
Meer Suid-Afrikaners weet nou en gaan ingelig bly, en dit gaan enorme druk plaas op die regerende party in terme van geloofwaardigheid. Die demokrasie gaan gevolglik sy loop neem, soos met die plaaslike verkiesings in Augustus 2016. Soos wat geaffekteerde boere pompe ná die vloed terugsit en die besigheid normaliseer, gaan vergelykbare operasies vervolgens aan die orde kom vir ’n beter politieke bestel.
Groot rol vir landbou
Die landbou het werk om te doen en die goeie nuus omtrent die komende graanoes en die verwagte positiewe impak op ekonomiese groei, maak die sektor ’n bepalende faktor in enige herskikking. Die afgelope agt kwartale was die Suid-Afrikaanse landbou in ’n resessie met negatiewe groei - ’n verteenwoordigende patroon vir die meeste SAOG-lede.
Indien die verwagte impak van die huidige graanoes in terme van bydrae tot die groei van die nasionale ekonomie verreken word, is daar gewoon nie tyd te verspil ten opsigte van wat behoorlike hantering van dié meevaller aanbetref nie.
Sonder om eers die aanlyn-impak binne die waardeketting te verreken, kan die landbou se ommeswaai van negatiewe groei na betekenisvol positief, die nasionale ekonomie met meer as 1% laat groei. Dié goeie nuus is verder betekenisvol in terme van die rol wat ’n verwagte 4 miljoen ton uitvoerbare graan kan speel om voedselonsekerheid te verminder.
Die Global Report on Food Crises van 31 Maart 2017 onder leiding van die FAO openbaar skokkende omstandighede van lande op die grens van hongersnood en dat meer as 108 miljoen mense wêreldwyd uitgelewer is. Hieronder tel lande soos Malawi, Zimbabwe en Lesotho.
Talle faktore is as direkte oorsake geïdentifiseer, soos onder meer die omgewing (droogtes en vloede), peste en politieke onstabiliteit (waaronder oorlog) en gepaardgaande ontworteling van landsburgers uit hul lande van herkoms.
Die aangewese ding vir vir boere is om te fokus op produktiwiteit en doeltreffendheid, en om regerings waar nodig aanspreeklik en verantwoordbaar te hou vir die verskaffing van openbare goedere om sodoende volhoubare voedselsekuriteit te stu.
* Dr. Kobus Laubscher is 'n landbou-ekonoom en voormalige hoofbestuurder van Graan Suid-Afrika.