
Die Regering sal sy politieke optrede en beleidsformulering moet heroorweeg om te verhoed dat Suid-Afrika 'n mislukte staat word, sê Agri SA.
Die organisasie het pres. Jacob Zuma se kabinetskommeling, wat Donderdagaand aangekondig is, in 'n verklaring veroordeel en sy optrede as 'n "miskenning van die ekonomie" beskryf.
Volgens mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, volg Suid-Afrika tans nadelige beleidsmaatreëls wat tot 'n lae vlak van buitelandse investering kan lei.
"Volgens die jongste Wêreldbeleggingsverslag het buitelandse investering in Suid-Afrika met bykans 70% in 2015 in vergeleke met die vorige jaar afgeneem – die laagste vlak in 10 jaar. Duidelik is buitelanders nie bereid om plaaslike beleid goedsmoeds te aanvaar nie.
"Heroorweging van beleidsformulering en politieke optrede is duidelik nou van uiterste belang sodat ons land nie ‘n 'mislukte staat' word nie.”
Onsekerheid
Hoewel dié kabinetskommeling nie die landbou direk raak nie, met die moontlik uitsondering van min. Fikile Mbalula se aanstelling as die Minister van Polisie, lei die landbou ook onder ondeurdenkte beleidsbesluite, sowel as onsekerheid oor verskeie belangrike beleidsake vir die bedryf.
"Politieke uitsprake oor onteiening sonder vergoeding, onpraktiese voorstelle oor inkorting van grondbesit, die grondrestitusie-proses wat tans vloeibaar is, die onsekere toestand van toekomstige beskikbaarheid van water en vae eise vir swart ekonomiese bemagtiging wat gehoor aan gegee moet word, is beslis nie bevorderlik vir belegging in ons sektor nie – dit terwyl optimum produksie op 'n lewensvatbare kommersiële grondslag vereis word om die toekomstige vraag na voedsel vir die hoofsaaklik verstedelike bevolking in die land te verseker.”
Möller het ook sy kommer uitgespreek oor oproepe om wysigings aan die Grondwet.
“Indien ons daardie roete volg, sal selfs die baie beperkte beleidsekerheid wat wel bestaan ook verdwyn. Ons het beslis meer beleidsekerheid nodig – nie minder nie.”