
Die gebruik van die benaming port op bottel-etikette is van 1 Januarie 2012 af onwettig in Suid-Afrika, sê die Kaapse Portprodusente-vereniging.
Luidens ‘n verklaring sal alle port-styl wyne, wat van dié datum af gebottel word, ‘n Cape Ruby, ‘n Cape Pink, ‘n Cape Tawny of ‘n Cape Vintage heet. Verspreiders sal toegelaat word om alle produkte wat vóor dié datum as ‘n “port” gebottel is, met dié etiket te verkoop.
Hoewel die benaming “port” nie meer op etikette gebruik mag word nie, sal Suid-Afrikaanse Port-produsente steeds hulle produkte as port adverteer, en Calitzdorp sal steeds as die land se port-hoofstad bekend staan. Die vereniging raai ook alle wynkompetisies in die land aan om na die produk as Kaapse port op inskrywingsvorms te verwys.
Was Portugal kortsigtig?
Volgens die vereniging meen verskeie port-produsente in Portugal dat dié land se portbedryf kortsigtig was om te veg vir die verwydering van dié benaming op alle port-produkte wat nié van dié land afkomstig is nie. Die produsente sê die stap kan ‘n ongunstige invloed op die vraag na port hê, selfs in Portugal.
Baie plaaslike en internasionale kenners reken dat Suid-Afrika se port by verre die beste in die Nuwe Wêreld is, en gelykstaande aan die ware jakob uit Portugal.
Die vereniging is dit eens dat Kaapse port ‘n goeie toekoms kan verwag, en dat Suid-Afrikaanse tafelwyne - wat van dieselfde Portugese rooi- en witdruiwekultivars gemaak word - meer gewild sal raak.
Die 2012 Kaapse Port-Uitdaging, wat deur die vereniging georganiseer word, sal vir die eerste keer ‘n tafelwyn-kategorie insluit.
17 Januarie 2012