
Nadat AfriForum Jeug gedreig het om probleme by die Landboukollege Potchefstroom onder die aandag van verskeie owerhede te bring, het personeel van die kollege aangedui dat hulle met die burgerregte-organisasie om 'n tafel sal sit.
Mnr. Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, sê nadat hulle verlede week 'n brief met 'n ultimatum aan die kollegebestuur gestuur het, het amptenare die organisasie gebel en gevra dat 'n vergadering gereël word. AfriForum Jeug hoop om binne die volgende twee weke met verteenwoordigers van die kollege te vergader.
Ou koeie
Die organisasie, wat lede op die kampus het, se klagtes oor toestande daar kom al 'n paar jaar. Hy het in 2011 'n ondersoek na veiligheids- en gesondheidsprobleme laat doen; daarna inligting oor finansies aangevra; en het ook al 'n ondersoek gevra oor beweerde rassisme, diefstal en dwelmmisbruik.
Volgens AfriForum-lede op die kampus word koshuise en geboue swak onderhou, werktuie en trekkers “staan stil”, vee “verdwyn” sodat daar byvoorbeeld net enkele ou koeie in die melkery oor is, Afrikaans kom nie tot sy reg as onderrigtaal nie, en die organisasie se lede ervaar 'n rassistiese houding vanaf die bestuur.
AfriForum kry voortdurend aanmeldings van beweerde intimidasie, diskriminasie, swak administrasie, dalende standaarde, ondoeltreffende onderrig en onbehoorlike finansiële praktyke by die kollege.
Geen verbetering
Volgens Maree was daar nie verbeterings ná vorige klagtes nie en het die organisasie ook nie terugvoer gekry nie. Om sake te vererger, is dit volgens Maree feitlik onmoontlik om met enigiemand op die kampus kontak te maak met wie hulle 'n kommunikasiekanaal kan skep.
AfriForum het nou gedreig om landbou- en onderwysowerhede asook Nasionale Tesourie te vra om diepte-ondersoeke te doen na die akademiese en finansiële bestuur van die koshuis.