‘n Boer van Buffelshoek in Potchefstroom is vroeg Maandagoggend (20 Februarie) op sy plaas, Frischgewaagd vermoor, aldus die SAPD.
Luidens ‘n verklaring was die 49-jarige boer en sy 45-jarige vrou besig om te melk toe vyf onbekende gewapende mans hulle oorval het.
Die melkstal is sowat 70m van die plaashuis geleë. Beide die boer en sy vrou is deur die aanvallers na die huis geneem, en op pad na die huis het ‘n struweling tussen die boer en die aanvallers ontstaan. Die boer is in die agterkop geskiet, en het tussen die huis en die stal gesterf.
Vrou is vasgebind, aangerand
Die vrou is na die huis geneem, waar die verdagtes haar vasgebind en aangerand het. Sy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Die aanvallers het toe met die egpaar se voertuig op die vlug geslaan.
‘n Familievriend wat by die egpaar gaan kuier het, het die vrou in die huis gevind en die Polisie gekontak. Die vrou is na ‘n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.
Die Polisie is tans op die toneel om die voorval te ondersoek. Enige lid van die publiek wat die egpaar se voertuig, ‘n Nissan Almera, met registrasienommer FMC 425 NW opmerk, word gevra om die Polisie te skakel. “Moet asseblief nie die mans konfronteer nie, want hulle is gewapen en gevaarlik,” vra die Polisie.
Lt.gen. Zukiswa Mbombo, Kommissaris van Polisie in Noordwes, het sy simpatie met die familie betuig en sê die Polisie sal nie hulle soektog staak voor die verdagtes agter tralies is nie.
20 Februarie 2012