
Die Regering se bestuur van die land oor die volgende vyf jaar wek ernstige kommer. Só het mnr. Max du Preez, politieke analis en skrywer, op die jaarkongres van die Noord-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Kimberley gesê.
Hy het gesê die land se politieke vooruitsigte oor die volgende vyf jaar lyk rof en daar is baie wat kan skeef loop ten opsigte van regeringsbestuur. “Die land se burgery moenie bloot toelaat dat die Regering die Suid-Afrikaanse ekonomie ondermyn nie. Ons moet slimmer te werk gaan en ook as landbougemeenskap strategies toesien dat stabiliteit en produktiwiteit seëvier," sê hy.
Een van die ernstigste aanklagte wat hy op die kongres voor die deur van die Zuma-regering gelê het, is dat die Regering nie ernstig is oor die vraagstuk van grondhervorming nie. Die landbou kan nie verkwalik word oor die beskuldiging dat die Regering nie ernstig is oor die kwessie nie. "Hulle praat egter net daaroor. Hulle gebruik net die emosionele retoriek, maar wanneer dit by aksie kom, dan staan hulle terug. Hoekom gee hulle vir ons 'n minister soos mnr. Senzeni Zokwana wat geen landbou-ervaring het nie en 'n swak rekord het? Hoekom stel hulle minister Nkwinti, wat die afgelope tyd so met grondhervorming drooggemaak het, weer aan in sy pos?"
Ander kwelvrae van Du Preez verwys na die wanaanwending van R500 miljoen aan staatsgeld op 'n melkplaas in die Noordoos-Vrystaat, wat eerder vir die aankoop van sowat 50 000 ha mieliegrond vir die hervestiging van 50 boere gebruik kon word. "Hierin kan die vingers van verskeie politieke figure gesien word. Hierdie is die soort goed wat die boere vir die Regering moet begin sê." Hy het ook die vraag gevra oor wanneer die Zuma-regering die nasionale ontwikkelingsplan gaan begin toepas. "Hoekom gebuik hulle grondhervorming net as 'n emosionele argument, maar voer dit nie uit nie?"