
Die AHI in die Wes-Kaap is besorg oor die jongste vlaag beweringe en uitsprake van Bawusa en Cosatu oor uitsettings van landbouwerkers.
Die organisasie is ook begaan oor die georganiseerde landbou se reaksie op die aantygings, die partye se klaarblyklike onwilligheid om die kwessie met mekaar te bespreek en die teelaarde wat dit vir polarisasie tussen grondeienaars en landbouwerkers skep, sê mnr. Orton King, voorsitter van die AHI in die Wes-Kaap.
“Die AHI is bekommerd dat die huidige uitlatings 'n herhaling van die landelike onrus van 2012 in die Wes-Kaap tot gevolg kan hê. Sedertdien is hard gewerk om verhoudinge te herstel en daar kan nie toegelaat word dat lukrake debat en wilde, onbewese aantygings nog eens gesindhede tussen landbouwerkers en plaaseienaars verhard nie.”
King sê die hernieude wantroue en onrus in landelike gebiede nasionaal en in die Wes-Kaap sal 'n afname in volhoubare voedselproduksie en voedselsekerheid tot gevolg hê.
Uitsprake van 'n merkbare toename in plaasuitsettings en versoeke dat die Wes-Kaap 'n moratorium op uitsettings moet plaas, moet met erns bejeën word. Die georganiseerde landbou se verweer dat uitsettings wettig is, moet ook teen die morele regverdigbaarheid daarvan opgeweeg word.
Die AHI meen dit is tyd dat plaaswerkers begunstigdes word van munisipale behuisingsprojekte wat deur die asionale Regering gefinansier word.
Die AHI Wes-Kaap moedig alle belangegroepe aan om byeen te kom en gesprek te voer oor sinvolle en volhoubare oplossings vir plaaswerkerbehuising en dat uitsettings tot 'n einde kom.