’n Transaksie van sowat R85 miljoen het aan Premier Foods ’n beherende aandeel in twee bakkerye in Swaziland besorg.
Luidens ’n nuusverklaring beheer die twee ondernemings, Mr. Bread en Swaziland United Bakeries, sowat 75% van dié land se broodmark.
Premier Foods beoog om sy sterkste broodhandelsmerk in Suid-Afrika, Blue Ribbon, as deel van Swaziland se Supreme-broodreeks bekend te stel. Die maatskappy sal die twee bakkerye tegnies en strategies ondersteun om hulself binne die mark te herposisoneer.
Mnr. Wayne Levendale, die besturende direkteur van Mr. Bread, sal die hoof uitvoerende beampte van die gesamentlike onderneming wees en hy en ander sleutellede van die personeel sal saam die grootste hoeveelheid aandele behou.
Nuwe markte
Mnr. Ian Visser, hoof uitvoerende beampte van die Premier Foods Groep, sê ná hul transaksie met Brait SA verlede jaar is die maatskappy nou in ’n posisie om sy strategie uit te voer waarvolgens hy aktief in nuwe markte in Afrika suid van die Sahara wil deelneem. Sodoende wil hulle ook bates bekom wat saam met hul bestaande produkte en aktiwiteite kan groei.
Brait SA het sy aandeel in Premier Foods in Julie verlede jaar verhoog. Daarvolgens het die groep ’n langtermyn-aandeelhouer geword met die doel om die maatskappy se nuwe groeifase te ondersteun. Dit het Premier Foods toegang tot meer kapitaal gebied om sy ontwikkeling uit te brei.
“Hierdie aanwinste pas perfek binne ons beleggingskriteria en ons sien daarna uit om nou met die bestuurspan saam te werk om bekostigbare produkte van ’n hoë gehalte vir die Swazilandse mark te ontwikkel,” aldus Visser.
Levendale sê die belegging deur Premier Foods bied die nuwe onderneming “broodnodige” toegang tot tegniese en bedryfsvaardigheid, wat produkgehalte en vaardigheid sal verbeter.
“Gevolglik kan verbruikers ’n beter diens deur ’n verbeterde afleweringsnetwerk en die bekendstelling van nuwe produkreekse, soos hoëgehalte-fyngebak, teen bekostigbare pryse verwag.”
17 Februarie 2012