Noordwes se regering het gefouteer deur nie die landbou ’n voorrangsaak te maak nie, het me. Thandi Modise, premier van dié provinsie, op Agri Noordwes se kongres gesê.
“Ek is in Vryburg gebore en maak nie saak hoe arm ons was nie, ons kon vertrou dat instellings, soos silo’s en abattoirs, werk sou skep. Talle van dié instellings het hul deure gesluit. Dié verlore geleenthede moet herwin word.”
Modise het gesê die Regering wil besproeiingstelsels, landbouskole en landbouverwerkingseenhede voortaan as voorrangsake hanteer.
‘Wat bind ons saam?’
“Pleks van om te kyk na dit wat ons van mekaar skei, moet ons kyk na dit wat ons saambind. Dit is nie van belang waar jy vandaan kom nie. Wat belangrik is, is waarheen ons op pad is.”
Modise sê dit maak nie saak wat politici sê nie – honger is die belangrikste gemene deler. “Daar kan nie verwag word dat diegene wat nie kos of werk het nie, werk skep nie. Dit is ’n werklikheid dat die las van transformasie swaarder op boere se skouers rus as op dié van gewone burgers. Die las van werkskepping lê ook swaarder op jul skouers.”
Modise sê hoewel dit nie verkeerd is om opkomende boere in koöperasieverband saam te bind nie, is dit verkeerd om mense met niks bymekaar te gooi en te verwag dat hulle iets uit niks moet skep.
19 September 2011