
Grootskeepse herstruktuering is pas by Premier Foods afgehandel, waarvolgens die internasionale Brait SA-groep ’n langtermyn-aandeelhouer geword het.
Luidens ’n verklaring het dié stap ook verskeie strategiese aanstellings vir die groep se volgende groeifase tot gevolg gehad.
Mnr. Ian Visser, hoof uitvoerende beampte van die Premier Foods-groep, sê dié transaksie hou vir die groep baie voordele op strategiese en bedryfsvlak in, veral wat mededingendheid betref.
“Die herstruktuering stel sekere lede van Premier Foods se bestuur – wat aan die aanvanklike 2007-bestuursuitkoopooreenkoms deelgeneem het – in staat om hul aandeel in die groep in geld om te skakel en hul rolle oor die komende maande te verlaat.
"Ek wil hulle graag bedank vir die waardevolle bydraes wat hulle in die veranderings in die onderneming gemaak het en die fondamente vir toekomstige groei wat hulle gelê het,” aldus Visser.
Tot 80% aandeel
Ingevolge die ooreenkoms met Brait SA het dié groep die keuse om sy aandeel in Premier Foods van 49,9% tot 80% oor die volgende vyf jaar te verhoog. Dít kan hulle doen deur aandele van die groep se bestuur te koop.
Die oorblywende 20% van die aandele sal in die hande van werknemers en die bestuur bly.
Om die groep se beoogde groei te bewerkstellig, neem Visser die rol van die groep se hoof uitvoerende beampte in, met die oog op uitbreiding na die res van Afrika.
Mnr. Tjaardt Kruger is aangestel as die hoof uitvoerende beampte van die bedryfsmaatskappy, Premier Foods, terwyl mnr. Kobus Gertenbach, wat van Brait SA se kant af by die groep aangesluit het, die hoof finansiële beampte is.
Langtermyngroei
Visser sê die groep wil vorentoe fokus op uitbreiding in sy onderskeie markte, veral om sy omset te laat groei.
“Stapelvoedselbedrywe in Suid-Afrika en die streek suid van die Sahara gaan ongelooflike groei aanteken en ons vermoë om ernstige beleggings in ons waardeketting, geografiese voetspoor en handelsmerke te ontplooi, sal verseker dat Premier Foods die geleenthede in die mark, wat verhoogde verbuikersbesteding en die ontwikkeling van belangrike infrastruktuur in die streek tot gevolg gaan hê, tot ons voordeel aan te wend,” vertel Visser.
Dié maatskappy het in 1852 ontstaan en vandag gebruik sowat 10 miljoen mense daagliks sy produkte. Die groep besit 10 bakkerye, vyf koringmeulens, ’n mieliemeule met 16 verspreidingspunte en dit verskaf werk aan sowat 5 000 mense.
Huis van Snowflake
Landbou.com het Premier Foods se koringmeule in Vereeniging, wat as die Huis van Snowflake bekend staan, onlangs op ’n mediatoer besoek. Die meule is in 1988 begin, en dit ontvang maandeliks sowat 20 000 ton koring, en maal vyf dae per week vir 24 uur per dag.
Die meule kan tot sowat 13 000 ton koring per maand maal, met sowat 14 000 ton meel wat per maand verpak kan word. Sowat 80% van die meule se koring word per vragmotor afgelaai, terwyl die res van spoorvervoer afhanklik is. Altesame 210 mense werk by die meule en verpakkingsaanleg.
Kyk hier na foto’s van die meule.
13 Desember 2011