
Die Presidensie gaan nie net die nasorgfunksies vir grondhervorming by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming wegneem nie, maar ook die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur.
Hierdie skuiwe kom na aanbevelings wat die Presidensie se Departement van Monitering en Evaluering gedoen het. Die skuif van die wetgewing volg kort op die hakke van die bekendmaking dat die herkapitaliseringsprogram na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geskuif gaan word. Boonop het die Kommissie vir die Herstel van Grondregte verlede jaar begin om sy outonomiteit te bewerkstellig.
Hy het vir die geldjaar geeïndig 2017 sy eerste losstaande jaarlikse prestasieplan ingedien. Hierdie stap versterk die onafhanklikheid van die kommissie, maar hy bly steeds interafhanklik van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Die beoogde skuif van die herkapitaliseringsprogram kom nadat bevind is dat dié reddingsplan van die staat vir grondhervormingsplase wat in die moeilikheid geraak het, nie naastenby die geld regverdig wat daarvoor ingeploeg word nie.
Dit is vaag, oorambisieus en verhoog boonop swart boere se afhanklikheid van staatsgeld. Daar is reeds sedert die program in 2009 afgeskop het, R4,8 miljard op die herlewing van 1 675 plase bestee.
Wetgewing
Die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur is in Julie 2015 bekragtig en maak voorsiening vir die fasilitering van ekonomiese ontwikkeling en die transformasie van apartheid gebaseerde gebiedspatrone. Dit is ’n belangrike wetgewing wat grondhervorming ondersteun en dus ’n uitwerking op die landbou en landboubesighede sal hê omdat dit betrekking het op hoe grond in die toekom gebruik gaan word.
Volgens die wetgewing moet munisipaliteite binne vyf jaar sedert die bekragtiging van die wet ’n enkele grondgebruikskema vir sy gebied aanneem. Sommige munisipaliteite prioritiseer egter nie die toepassing van die wet nie, terwyl ander stadig vordering maak.
Daar is toe besluit dat die taak van implementering en monitering van die wetgewing tussen drie departemente, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, die Presidensie en Plaaslike Regering en Tradsionele Sake, verdeel word. Die verdeling van take en funksies word nog bespreek en sodra eenstemmigheid bereik word, sal dit na pres. Jacob Zuma gaan vir goedkeuring.
Me. Aluwani Matsila, waarnemende adjunkdirekteur-generaal verantwoordelik vir ruimtelike beplanning en grondgebruikbestuur, het verduidelik dat die gevoel is dat die implementering van die wetgewing die samewerking van verskeie departemente en munisipaliteite verg en daarom kon dit nie deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming alleen hanteer word nie. “Daar was gevoel dat die proses eerder deur die Presidensie bestuur moet word wat dit moontlik sal maak dat verskeie departemente kan saamwerk siende dat die Presidensie dit koördineer.”
* Het jy ’n nuuswenk, kommentaar, ’n foto of video wat jy aan ons wil stuur? Gebruik Whatsapp om met ons te gesels by 063 720 3632.