
Die Regering se eie navorsing wys ernstige gebreke uit in die Kommissie op die Herstel van Grondregte, berig JOYLENE VAN WYK.
Armoede, ongelykheid en werkloosheid in gemeenskappe wat hul grond teruggekry het danksy die Regering se grondhervormingsprogram, wys dat dié program nie ’n beduidende verskil kon maak aan die lewens van die meer as 1,8 miljoen nuwe grondeienaars nie.
Dít is die slotsom van kundiges in die Departement van Monitering en Evaluering in die Presidensie ná ’n studie van die restitusieprogram van Januarie 1999 tot 31 Maart 2013.
Hoewel 85% van die grondeise in dié tydperk afgehandel is, het die program se doeltreffendheid tekort geskiet weens onder meer swak bestuur, onduidelike en teenstrydige operasionele prosedures en gebrekkige personeelvermoëns. Weens dié gebreke het elkeen van Suid-Afrika se nege provinsies sy eie plan gemaak om die restitusieproses af te handel.
Tweede eisproses
’n Tweede eisproses is in 2014 vir ’n tydperk van vyf jaar oopgestel. Die afsnydatum vir die eerste fase waartydens grondeise ingestel kon word, was in 1998.
’n Evaluasie van die eerste fase toon egter dat restitusie as ’n manier van landbouhervorming nie tot billike grondeienaarskap, die ontwikkeling van genoeg swart kommersiële boere of produktiewe grondgebruik gelei het nie. Daarom het die Kommissie op die Herstel van Grondregte en die Departement van Monitering en Evaluering gevra vir ’n evaluasie van die eerste fase van die restitusieprogram, om te kyk hoe werkverrigting in die tweede fase verbeter kan word.
Die span het 533 projekte uit vyf provinsies geëvalueer en vier gevallestudies per provinsie gedoen, asook die register van geldige eise vir die hele Suid-Afrika – van 1999 tot 2013 – ondersoek.
Geldtekorte nie die probleem
Die skrywers van die verslag meen geldtekorte is nie regtig die belangrikste rede vir die stadige pas waarteen grondeise afgehandel word nie. Dit hou eerder verband met die kommissie se toenemende fokus op kwessies buite sy wetlike mag. Dit sluit aspekte in, soos om verantwoordelikheid te aanvaar vir nasorg van grond wat teruggegee was, die oplos van voortslepende dispute tussen gemeenskappe, plaaslike politiek en om pa te wil staan vir breë, plaaslike ekonomiese ontwikkelingskwessies.
“Naas die las wat dit op personeel en hulpbronne plaas, veroorsaak dit dat die restitusieproses verhoudinggedrewe en persoonlik raak, pleks van om ’n gedefinieerde sakeproses te wees.”
Die studie meen die samesmelting van die kommissie en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming was ’n groot fout, want dit het meegebring dat die kommissie se prosesse, wat onafhanklik moet wees, vervaag het. Swak menslike hulpbronbestuur, wat in die departement en nie die kommissie gesetel is nie, het die program se bestuursvermoë gekniehalter.
Nog ’n probleem is dat die program se moniteringstelsel slegs die aantal eise wat geskik is en die aantal wat afgehandel is in ag neem. Die doeltreffendheid of die gehalte van die eisproses, stappe in die loop van die proses en die gehalte van die eise oor die algemeen word nie gemonitor nie.
Aanbevelings van die span kundiges
Die span beveel aan dat die kommissie glad nie belas moet word met nasorg-steun aan plase wat teruggegee is, plaaslike ekonomiese ontwikkeling óf die finansiering van enigiets buiten die afhandeling van grondeise nie.
Verder moet alle uitstaande grondeise voorkeur geniet. Geen nuwe eise van die tweede grondeise-fase moet verwerk word tot die voorwaardes en riglyne van hoe die tweede restitusiefase by die standaardprosedures aansluit, behoorlik uiteengesit is nie. Die stelsel vir die liasseer en opname van eise moet verbeter word en ’n standaardprosedure van hoe om grondeise af te handel, moet ontwikkel word.
Die kommissie en die program se doel en funksie het boonop 'n duidelike definisie nodig.
Onafhanklik van departement
Om die kommissie meer vaartbelyn te maak, doen me. Nomfundo Gobodo, die hoof-grondeisekommissaris, sedert verlede September regstreeks verslag aan mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
’n Regsmening is reeds opgestel wat motiveer hoekom die kommissie onafhanklik van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming moet funksioneer.
Verder het Nkwinti aan Gobodo die mag gegee om sekere fases van die eisproses goed te keur om die afhandeling van eise te versnel. Gobodo het verlede jaar aan die Parlement gesê die kommissie se mandaat moet verfyn word omdat die kommissie en die departement se funksies en verantwoordelikhede gereeld bots.