
Neem jy graag foto’s van boerdery? Sluit aan by Landbouweekblad se Instagram-platform en deel van jou mooi foto’s en geniet ander se pragfoto’s.
Gretchen Peiser, LBW se produksiebestuurder, hanteer LBW se Instagram. Sy beskou dit só: “Instagram is foto’s, maar dit is ook baie meer. Daar is foto’s wat mense in hulle eie omgewing en daaglikse handel en wandel neem. Jy kan ook bepaal watter groepe jy by wil inskakel. Dis ’n tipe soort-soek-soort. ‘Like’ jy al die kosfoto’s, sien jy meer kosfoto’s, en so aan. Ek hou van beeste, skape, honde, hoenders, trekkers... eintlik enigiets wat met ’n plaas en sy mense te doen het. Só sien ek die foto’s van babas van dagoud tot hul eerste verjaarsdag.
“Veeartseny-studente se eerste kalfvang tot die trotse eienaar by sy blink nuwe trekker. Oormôre is dieselfde trekker asvaal van die stof geploeg! Ek voel ek weet wat die boere beleef en ek is bly as verlede week se vars-geplante lande groen wys bo die rooi grond, en hartseer ook as die witkruisfoto sy storie van ’n geliefde troeteldier vertel.
“Maak nie saak of dit ’n boer in Suid-Afrika of in Indië is nie, dis ’n boer, en sy foto’s wys sy liefde vir die grond en sy diere. En stadig maar seker groei die vriendekring van 100 tot 1 000! Grensloos en onmiddellik, dit is Instagram,” sê Gretchen.
* Gaan na Landbouweekblad op Instagram of soek na @landbou en sluit aan.