
Die Regering se obsessie oor transformasie bring mee dat die Staatsdiens toenemend onkapabel raak en tans die duurste ter wêreld is. Met 1,4 miljoen amptenare in diens verteenwoordig die koste daarvan reeds 14% van die bruto binnelandse produk. Dit is bykans 4 keer meer as die 3,7% van die BBP wat Rusland aan sy staatsdiens bestee, sê mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Pringle het op die vereniging se jaarkongres in Port Elizabeth uitgevaar oor die agteruitgang in Suid-Afrika, veral oor die afgelope vier jaar. Hy het gesê transformasie en regstellende aksie deur SEB-wetgewing het nie net die staatsmasjinerie lam gelê nie, maar hou ook ’n bedreiging vir die res van die land se ekonomie in.
“In 1998 was daar 669 maatskappye wat op die Johannesburgse Effektebeurs gelys was – vandag is daar net 394. Baie van die kleiner maatskappye wat genoteer was, het geprivatiseer om van die vereiste vir regstellende aksie weg te kom, terwyl ’n maatskappy soos Anglo American, wat in 1987 nog 60% van die JSE beheer het, se deel teen 2004 tot 19% afgeneem het.
“Hul verdienste in Suid-Afrika het tot 26% verminder vergeleke met die 45% wat hulle in Latyns-Amerika verdien. Waar maatskappye soos BHP Billiton, SA Brouerye, Old Mutual, Sasol, Investec en Dimension Data, wat reeds na Londen en New York uitgewyk het, het die Suid-Afrikaanse regering sy vermoë verloor om daarop aan te dring dat hulle aan sy regstellende voorwaardes voldoen.”
Hy het ook sy kommer uitgespreek dat die land van regstreekse buitelandse beleggings afhanklik is om die ekonomie te laat groei. “Laasgenoemde is nie ’n betroubare bron nie aangesien die voortdurende SEB-transaksies en onvriendelike arbeidswetgewing, Suid-Afrika relatief onaantreklik vir buitelandse beleggers maak.”
Waar Suid-Afrika in 1976 die 18e grootste ekonomie ter wêreld was en die 15 grootste handelsland, het dit teen 2006 onderskeidelik tot die 28 ste en 37ste plek teruggesak. “Met ’n handelsbalanstekort van 9,5% van die BBP behoort mnre. Julius Malema en Gugile Nkwinti daarvan kennis te neem dat dié land deel is van ’n wêreldekonomie. Enige skerp politieke swaai na links sal meebring dat geld uit die land geneem word (vlug) en die rand tuimel.
“Enigeen wat meen dat kommunisme die antwoord is, hoef maar net te kyk wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Noord- en Suid-Korea gebeur het. Noord-Korea, waar alles aan die regering behoort, is vandag ’n mislukte staat, terwyl Suid-Korea ’n ‘Asiese wonderwerk’ met hoë groei, diensverskaffing en ’n welvarende middelklas is.”