
Charles, die Prins van Wallis, het dié naweek met die Suid-Afrikaanse wolbedryf kennis gemaak op ’n funksie ter viering van die internasionale veldtog vir wol.
Die funksie is by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad deur die wolmakelaar Cape Wools aangebied. Wolleiers, boere, modeontwerpers en ander bekendes het die glansgeleentheid in die tuin van die historiese hotel bygewoon.
Byskrif: Prins Charles (heel regs), die Prins van Wallis, luister aandagtig na Dirkie Uys, bekende Merinoteler van Bredasdorp (heel links) op ’n funksie in Kaapstad. Ook op die foto is van links mnre. Harry Prinsloo, voorsitter van die NWKV, Louis de Beer, hoofbestuurder van Cape Wools en Geoff Kingwill, voorsitter van Cape Wools.
Veldtog
Prins Charles is die beskermheer van ’n veldtog om wol as die voorste natuurlike en volhoubaar geproduseerde vesel in die wêreld van kleedstowwe te vestig. Hy is ook ’n groot kampvegter vir omgewingsbewaring en glo dat die natuurlike eienskappe en duursaamheid van wol groot voordele vir die modebedryf en vir binnenshuise tekstielstowwe inhou.
Volgens me. Ona Viljoen, skakelbeampte van Cape Wools, produseer die prins organiese wol op sy plaas, Duchy Home Farm, wat binne die gronde van Highgrove Estate geleë is.
Die wol van sy Cotswold-skape word in ’n reeks organiese klere gebruik wat die bekende Britse kleinhandelaar, John Lewis, onlangs in sy winkels bekend gestel het. Viljoen sê die veldtog vir wol is in Oktober verlede jaar in Londen van stapel gestuur met ’n “wolweek”.
Wol oral...
Londen se beroemde Savile Row (die straat waar van die wêreld se bekendste modewinkels geleë is) is tydens die week met gras bedek is sodat skape daar kon wei.
“Al die winkels het spesiale uitstallings met wol in hul vensters gehad en het hul werkswinkels en argiewe aan die publiek oopgestel. Die veldtog is vanjaar na ander stede in die Noordelike Halfrond, soos Tokio, Madrid, Berlyn, Amsterdam en Oslo, uitgebrei.”
Viljoen sê bekendes in die modebedryf, binnenshuise versierders, die konstruksiebedryf en woltapytvervaardigers word by die veldtog betrek.
7 November 2011