
Agricolleges International Suid-Afrika se eie webwolk-gebaseerde landboukollege sal sy eerste gewalifiseerde studente aan die einde van 2018 oplewer, het mnr. Howard Blight van die organisasie se stuurkomitee by ’n onlangse boeredag in Tzaneen gesê.
Die web-gebaseerde kollege het vroeëre planne om vyf landboukolleges regoor die land te bou laat vaar vir wolk-gebaseerde of e-leerplanne, wat dit moontlik maak om studente enige plek in die wêreld teen ’n fraksie van die koste op te lei.
Die aanvanklike begroting vir die oprigting van die eerste kollege in Tzaneen en die ontwikkeling van leerplanne en aanstel van dosente het in die omgewing van R330 miljoen beloop. Dit is danksy die webkollege-model nou afgeskaal tot R120 miljoen. “En ek wonder of ons dit alles gaan gebruik,”sê Blight.
“Ons lesing-bestuursentrum sal in Saltlake City in die Verenigde State van Amerika gesetel wees. Hulle beskik daar oor al die nodige algoritmes om ons lesingmateriaal op die webkollege te laai.” Die beste dosente van regoor die wêreld kan gebruik word om e-klasse aan te bied. Lesings sal in die vorm van podcasts en video’s aan opbetaalde studente beskikbaar gestel word.
Blight verduidelik dat selfs praktiese evaluering oor die internet gaan plaasvind. Dit sal glo moontlik wees vir ’n student om hom- of haarself met ’n slimfoon of tablet op ’n staander of driepoot te verfilm terwyl hulle byvoorbeeld ’n laer op ’n trekkerwiel omruil. Die werk op die video kan dan deur ’n dosent geëvalueer word vir punte. Hy sê klasfooie gaan in die omgewing van R25 000 per jaar beloop.
“Ons gaan die konsep van landbou-opleiding in Suid-Afrika heeltemal verander en hoop om gou ook studente in die Engels-sprekende state van Afrika op te lei. Ons kyk na Zambië en Tanzanië om mee te begin en sal later leermateriaal in ander prominente Afrikatale vertaal.”