
Die nasionale grondoudit wat die staat tans onderneem om te bepaal hoeveel landbougrond al aan swart gemeenskappe oorgedra is, sal uitgebrei word om private swart grondbesit in te sluit.
Dít is bekend gemaak ná me. Agnes Qikani, ’n ANC lid van die parlement, ’n parlementêre vraag in die verband aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, gerig het.
Qikani wou weet in watter mate die beleid om slegs die grond wat aan voorheen benadeelde gemeenskappe oorgedra is, te meet, voldoende is om swart grondbesit te meet.
Luidens ’n berig in Die Burger het Nkwinti geantwoord: “Tot verlede maand het die grondoudit grond in private besit uitgesluit. Die insluiting van grond in private besit sal ’n omvattende blik op neigings in grondeienaarskap bied.”
Bevestig
Mnr. Mthobeli Mxotwa, Nkwinti se woordvoerder, het bevestig dat die nasionale grondoudit nou ook grond in private swart besit sal insluit.
“Daar word baie gepraat oor hoeveel grond deur die verskillende rasse besit word. Data van byvoorbeeld die Departement van Binnelandse Sake sal gebruik word om die ras van grondeienaars na te gaan,” sê Mxotwa.
Die oudit sal hopelik teen einde vanjaar voltooi wees.
Bron: Die Burger