
Grond in die staat se hande is ’n ongesonde praktyk, wat die land en die landbou net skade berokken, sê die TLU SA.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, het gereageer op die bekendmaking van gruwelike verwaarlosing op ’n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word. Volgens die TLU SA het talle varke en hoenders van dors gevrek, terwyl plante in groentetonnels ook van opgedroog het.
Daarbenewens het dit aan die lig gekom dat die Mamahlola-plaas naby Tzaneen, wat 10 jaar gelede aan die Banareng Ba-Ga-Letsoalo-gemeenskap gegee is en sedertdien onder administrasie van die regering geplaas is, nie sy werkers kan betaal nie.
“Dit is ‘n bekende feit dat grond wat in private besit is, oor die algemeen beter bestuur word aangesien dit as deel van ‘n sake-onderneming is wat winsgewend moet wees.
“Waar die staat grond bestuur, moet ‘n amptenaar met geen wesenlike of persoonlike belang die bestuur behartig. Die wins of verlies is nie vir sy eie rekening nie, met die gevolg dat dit hom nie werklik raak nie.
“Waar die Minister van Finansies in sy tussentydse begroting aangekondig het dat sekere staatsbates gedeeltelik verkoop gaan word om die staat uit sy finansiële verknorsing te help, is dit onder daardie omstandighede juis nou wenslik om ook staatsgrond te verkoop sodat dit kommersieel geboer kan word.
Meintjes het verwys na Spaarwater- en Tzaneen-gevalle, waarin R15 miljoen belastinggeld gepomp is (by Spaarwater) sonder ‘n enkele sent opbrengs daaruit, het hy gesê.
Boonop is dit ook so dat heelwat grond wat as gevolg van die restitusieproses van eienaarskap verwissel het, steeds in naam van die Republiek van Suid-Afrika geregistreer is. Daardie grond se titelaktes behoort onverwyld aan die nuwe begunstigdes daarvan oorgedra te word sodat hulle die geleentheid kan kry om voluit kommersieel daarop te produseer. Sonder eiendomsreg op daardie grond, sal die begunstigdes daarvan nooit ten volle suksesvol kan boer aangesien hulle nie toegang tot kapitaal het nie, sê Meintjes.