
Die klein hoeveelheid goedere wat spoorlangs na die Durbanhawe vervoer word en gevolglik verkeersopeenhopings weens die groot aantal vragmotors, asook vertragings in die vasmering en verskuiwing van vragskepe kan miljoene se lêkoste vir die graan- en oliesaadbedryf beteken, sê die Suid-Afrikaanse vereniging vir graan- en oliesadehandelaars (Sacota).
Verlede jaar se mielieuitvoerseisoen, waartydens verskeie hoogtepunte bereik is, het dit duidelik gemaak dat om doeltreffend en globaal mededingend te wees, alle gedeeltes van die waardeketting – van die plaas tot op die vragskip – belangrik is.
Dit sluit aktiwiteite binne die hawe in, soos die bestuur van die proses van vasmering van vragskepe waarop mielies gelaai word. Volgens Sacota gaan dit egter oor veel meer as die uitvoer van mielies.
Suid-Afrika voer jaarliks sowat 1,6 miljoen ton koring asook 300 000 ton rys, sojabone en sonneblomkoek en -olies deur Durbanhawe in om Suid-Afrika se voedselsekerheid te verseker.
Mnr. André van der Vyver, uitvoerende hoof van Sacota, het in September verlede jaar gesprekke met die Transnet-hawe-owerheid begin voer om aktiwiteite by Durbanhawe, sy terminale en die op- en aflaai van graan en oliesaad meer vaartbelyn te maak. Volgens Sacota het gereelde gesprekke gehelp om ondoeltreffendheid te vermy of verminder.
Suid-Afrika se mielie-uitvoer vind hoofsaaklik van Mei tot Oktober plaas, voor Amerika se nuwe oes beskikbaar is en mededinging toeneem. Weens ’n groot oordragvoorraad in Mei verlede jaar en nog ’n surplus-oes wat geoes moes word, het plaaslike pryse in 2022 dieselfde of naby aan die uitvoerpariteit gebly. Dit, tesame met hoë internasionale pryse, het volgens Sacota daartoe gelei dat uitvoer tot diep in 2022 reeds bespreek is.
3 MILJOEN TON SE UITVOER VERWAG
Volgens die nuutste voorspellings sal Suid-Afrika vanaf Durbanhawe 3 miljoen ton mielies uitvoer in die bemarkingsjaar wat op 30 April eindig. Die nuwe bemarkingsjaar begin in Mei.
Volgens Sacota was die belangstelling in uitvoer vir die nuwe seisoen so groot dat die beskikbare gleuwe vir vragskepe tot Junie vanjaar reeds teen einde verlede jaar ten volle bespreek is.
Gedurende Maart vanjaar het die Agriport en SABT-uitvoerterminale besluit om hul besprekings beskikbaar te stel en het handelaars feitlik alle besprekings tot Oktober vanjaar gevul. Daar sal dus moontlik vanaf Mei tot Oktober elke maand sewe Supramax-vragskepe deur Durbanhawe beweeg, twee van Agriport en vyf van SABT, wat gesamentlik 2,1 miljoen ton mielies kan vervoer.
Besprekings vir September en Oktober is egter minder aangesien die reënseisoen dan begin.
Weens die groot surplusse in mielieuitvoer en die feit dat Agriport en SABT se terminale tot hul volle kapasiteit benut word, is daar versoek dat die hawe in Oos-Londen weer vir losmaatuitvoerders oopgestel word. Sacota sê ná maande se onderhandelinge is vier vragskepe bespreek om van 25 April tot 6 Oktober uitvoer vanaf dié hawe te neem.
SPOORWEë ’n VERDERE STRUIKELBLOK
Terwyl spoorweë wêreldwyd ingespan word om graan op los maat te vervoer, word Suid-Afrikaanse spoorweë lamgelê deur onvoldoende onderhoud en kabeldiefstal. Sacota probeer tans ’n manier vind om kabeldiefstal hok te slaan.
Kabeldiefstal het daartoe gelei dat Transnet se vragvervoer-afdeling se dienslewering sedert September verlede jaar in vergelyking met die vorige seisoen met 40% gedaal het. Terwyl dié afdeling sowat 35% van uitvoer behoort te vervoer, vervoer dit tans net sowat 10%.
Volgens Sacota is die vereniging en sy bedryfsvennote besig met onderhandelinge om sekerheidskameras op die spoorweë te installeer.