Druk op die polisie met die afhandeling van vuurwapenlisensies gee aanleiding tot foute en appèlle wat toeneem, sê mnr. George Nell, ’n prokureur wat in vuurwapenwetgewing spesialiseer.
Hy sê dit word toegeskryf aan stelsels wat nie na behore werk nie en onkundige personeel wat nie voldoen aan die verwagtinge van goeie staatsadministrasie nie. Mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het op ’n vraag van die Vryheidsfront Plus gesê 13 673 appèlle ten opsigte van vuurwapenlisensies is nog nie afgehandel nie.
Die sperdatum vir die afhandeling van die lisensiekwessie was aanvanklik einde Julie, maar is later verskuif tot einde vandeesmaand. Volgens die minister is 2 106 aansoeke om appèl in 2008 ingedien. In 2009 het dit tot 2 683 vermeerder en verlede jaar tot 4 926.
Probleem lê nie by appèlraad nie
Vanaf Januarie tot nou is 16 994 aansoeke om appèl ingedien. Van hierdie aansoeke is 10 953 toegestaan, 2 083 is afgekeur en meer as 13 000 is nog nie afgehandel nie. Volgens Nell lê die fout nie by die lede van die appèlraad nie.
“Hulle is almal regsopgeleide mense wat hul vakgebied ken en goed ingelig is oor die vuurwapenwet, maar hulle word toegegooi met ’n oormatige werklading waarvoor hulle te min is.”
Mnre. P.A. Mongwe en S.D Majokweni dien reeds sedert 2005 in die raad en mee. C.D Mashele en M. Malebye is onderskeidelik verlede jaar en op 1 Augustus vanjaar aangestel.
• Agri SA het vroeër in ’n verklaring gesê ’n groot hoeveelheid lisensies en bevoegdheidsertifikate lê by polisiekantore landwyd en wag om afgehaal te word. Mense word aangeraai om by hul plaaslike polisiekantoor navraag te doen of 012 353 6111 te skakel vir navrae of klagte.
5 September 2011