Ná jare se gesloer het die Departement van Waterwese ingestem om die omskakeling van waterskemas te ondersoek, sê Agri SA.
Luidens ’n nuusbrief het die departement ’n geleentheid geskep om die probleme met die omskakeling van staatswaterskemas na watergebruikersverenigings onder die loep te neem.
Mnr. Nic Opperman, direkteur van natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê in sommige gevalle sukkel watergebruikers al langer as 12 jaar om goedkeuring vir hul sakeplanne by die departement te kry.
Aanpassings
Een van die grootste probleme is glo dat die vereistes waaraan die sakeplanne moet voldoen, van tyd tot tyd – veral met die wisseling van ministers - aangepas word.
“Dit is veral die vereiste dat die bestuursliggaam 50% verteenwoordigend moet wees van voorheen benadeelde gemeenskappe wat nie altyd prakties uitvoerbaar is nie,” sê Opperman.
Die departement het egter onderneem om die kwessie met me. Edna Molewa, Minister van Waterwese, te bespreek. Altesame 59 skemas is reeds na verenigings oorgedra, en 129 is uitstaande. Dertien van die skemas is in die proses van oordrag, terwyl 32 nuwe verenigings gestig is.
Beter kommunikasie
Beter kommunikasie tussen die departement se nasionale en streekkantore is as ’n probleem uitgelig. Die voorneme van die staat om waterforums in streeksverband in werking te stel, word dus verwelkom.
’n Voorranglys vir omskakelings is ook aan Agri SA verskaf. Intussen is die oorspronklike doelwit om 19 opvanggebiedsbesture te vestig, tot nege afgeskaal.
’n Opvolgvergadering sal vroeg volgende jaar gehou word, waartydens die departement se verskillende strukture terugvoering oor vordering sal lewer.
3 November 2011