
Suid-Afrika se kwynende katoenbedryf het vanjaar ’n hupstoot gekry en volgens die eerste skatting vir die seisoen gaan die oes die helfte groter as verlede jaar s’n wees.
Volgens die eerste skatting vir die 2013/’14 seisoen word ’n totale katoen-oes van 46 956 bale vesel verwag, wat ’n styging van 54% teeoor die vorige seisoen is. Na raming sal 42 956 bale plaaslik geproduseer word en die balans van 4 000 bale in Swaziland.
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, sê dit is steeds ’n baie klein oes vergeleke met die omvang van die bedryf ’n klompie jare gelede. “Daar is steeds ’n persepsie dat katoen nie lonend is nie, Dit is heeltemal verkeerd: Die afgelope twee jaar het ons goeie pryse gekry.”
Produseer per kontrak
Hy sê vir boere om terug te keer na die bedryf én te meganiseer is baie duur. Om die bedryf ’n hupstoot te gee, begin Katoen SA, saam met die Departement van Handel en Nywerheid, in Maart met ’n geïntegreerde program om ’n hele nuwe waardeketting te skep om katoen op kontrak te produseer. Ander rolspelers sal waardetoevoeging doen onder die staat se program van verkryging.
Wat wêreldproduksie betref, skat die International Cotton Advisory Committee die 2013/’14-produksie op 25,7 miljoen ton – ’n daling van 4% teenoor die vorige seisoen.
Na verwagting sal China teen die einde van die 2013/’14 seisoen 58% van die katoenvoorraad in die wêreld hou. Indien China besluit om van sy reserwes ontslae te raak, kan katoenpryse daal.