
In die eerste helfte van vanjaar het produksie baie min gestyg of selfs gedaal, maar in September het dit volgens die Melkprodusente-organisasie se syfers met 5,1% gestyg.
Produksie in die eerste 10 maande van vanjaar was 1,7% hoër as in die vergelykende tydperk verlede jaar, sê dr. Koos Coetzee, MPO-ekonoom, in sy maandelikse verslag oor belangrike markaanduiders.
Die SA Melkverwerkersorganisasie (Sampro) verwys ook in sy jongste verslag oor markaanduiders na die beter groei in produksie van Augustus tot Oktober.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte, skryf dit toe aan laer graanpryse wat voer goedkoper gemaak het, gunstige weersomstandighede, en die verhoging in die prys van ongepasteuriseerde melk in die eerste sewe maande van die jaar.
Intussen het die verbruikersvraag na suiwelprodukte bly styg, selfs al is verbruikers onder druk. Die kleinhandelverkope van nege melkprodukte word gemonitor en volgens Kraamwinkel het ses hiervan se verkope in die twaalf maande tot September vanjaar gestyg.
Die verkope van vars melk, gegeurde melk en roomkaas het gedaal, maar die gesamentlike verkope van vars en langlewemelk het met 1,77% gestyg.
Verkope van vars melk het ook in die laaste ses maande tot September gestyg, nadat die kleinhandelsprys van langlewemelk in dieselde tyd meer gestyg het as dié van vars melk.
Kraamwinkel sê dalende internasionale melkprodukpryse kan in die nabye toekoms tot groter invoer na Suid-Afrika lei en afwaartse druk op uitvoer plaas.
Volgens die MPO-verslag was invoer van Januarie tot September vanjaar 39% hoër as in die eerste nege maande van verlede jaar, terwyl uitvoer met 4% gedaal het.
Coetzee sê in die meeste gevalle is produkte egter ingevoer teen pryse wat baie hoër was as die internasionale gemiddelde pryse en het nie die daling in invoerpariteit weerspieël nie.