
Die totale produksie vir die eerste nege maande van vanjaar was egter slegs 0,9% hoër as in dieselfde tyd laas jaar, lui die MPO se maandelikse verslag oor belangrike markaanduiders.
Die MPO het vroeër vanjaar gesê omdat produsentepryse te laat en te min gestyg het en weens onverwagse hoë graanpryse van November tot Maart sou produksie waarskynlik eers in die lente optel.
Dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die MPO, sê die groei in September, wat op sowat 3% groei in Augustus volg, is waarskynlik danksy 'n daling in voerpryse, produsentepryse wat stabiel gebly het, en moontlik 'n beter klimaat as 'n jaar gelede.
Hoewel produsentepryse al einde verlede jaar en begin vanjaar gestyg het, sê Coetzee as boere toe hul koeie meer begin voer het, sou dit 'n tyd duur om die invloed daarvan in hoër produksie te sien.
Verder het die voerprys eers onlangs begin daal en is daar ook boere met wie dit die vorige twee jaar só sleg gegaan het, dat hulle eenvoudig nie geld gehad het om bykomende voer te koop nie.
Coetzee sê laer graanpryse en bestendige produsentepryse het die melk:voer-prysverhouding nou in die guns van boere tot bokant 1,5:1 laat styg.
“Internasionaal word aanvaar dat 1,5:1 die gelykspeelvlak is. As die verhouding oor 1,5:1 beweeg en vir 'n tydperk daar bly, bevorder dit mettertyd produksie. Hoe gou dit gebeur, hang af van die tyd in die seisoen en wanneer pryse verander.
“Die langtermyn-verhouding in Suid-Afrika is laer as 1,5:1, naamlik sowat 1,3:1 tot 1,4:1, wat produksie dieselfde laat bly.”
Coetzee sê vanjaar se produksiegroei tot dusver is nie genoeg om in die voortdurende groei in die vraag te voorsien nie.
Van Januarie tot Augustus is 29% meer suiwelprodukte as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar ingevoer en uitvoer het met net 8% gestyg.
Dit het daartoe gelei dat netto uitvoer in hierdie tydperk 9% laer was as in Januarie tot Augustus verlede jaar.